‘n Hartseer toneel het hom by die Jordaniapark-aftreeoord in Kroonstad afgespeel toe twee inwoners dood in hul wooneenheid aangetref is.
Op Maandag 12 Februarie is Kobus (69) en Pat (68) van Tonder met skietwonde gevind nadat inwoners ondersoek gaan ingestel het toe hulle nie die egpaar telefonies kon bereik nie.
Tiaan Els, eienaar van die Jordaniapark-aftreeoord, sê almal by die oord is baie geskok en probeer die tragedie verwerk.
Volgens Els het die egpaar nog Sondag 11 Februarie saam met die inwoners by die oord gebraai en niemand het enige onraad vermoed nie.
“Pat moes Maandag ‘n voetoperasie in Welkom ondergaan. Die egpaar het altyd baie gelukkig en opgeruimd gelyk,” sê Els.
Die Van Tonders is oorspronklik van Allanridge en het hulle ‘n jaar gelede by die oord kom vestig. Hulle was baie betrokke by die bedrywighede van die oord en het altyd gehelp waar hulle kan.
Hulle is as dierbare en hulpvaardige mense beskryf.
Volgens Els is die egpaar se kinders reeds in Kroonstad om die wooneenheid op te ruim.
“Die familie is uiteraard baie getraumatiseerd en geskok. Ons wil graag ons innige meegevoel aan die Van Tonders se kinders en familie betuig.”
Els en sy ma, Alta Els, was ten tyde van die voorval met vakansie in Mauritius vir Alta se verjaardag en het dadelik die vakansie kortgeknip toe hulle die nuus ontvang het.
Die polisie is besig met ‘n geregtelike doodsondersoek en geen begrafnisreëlings is nog bekend gemaak nie.