Inspirasie kom uit wye oorde

Sy is ’n veelsydige en passievolle kunstenaar wat benewens haar skilderwerk haar stempel as ’n beeldhou- en tatoeëerkunstenaar afdruk.

Louw skilder graag met verskillende mediums op doek. Hierdie skildery word Sigaarman genoem.Foto:

Credit: SYSTEM

Sy is ’n veelsydige en passievolle kunstenaar wat benewens haar skilderwerk haar stempel as ’n beeldhou- en tatoeëerkunstenaar afdruk.

Die 50-jarige Collett Louw van Clarens sê haar kreatiwiteit het vlerke gekry toe sy op skool begin skets het. Sy het geen formele opleiding ontvang nie en meen dit is bloot haar ingebore talent wat haar op haar reis as kunstenaar lei.

Oor die jare heen het Louw haarself in verskeie kunsstyle as kunstenaar gevestig, en sy sê dat elke vorm van kuns wat sy beoefen vir haar besonders en lekker is.

Sy het in Randfontein grootgeword en was ’n leerling aan die destydse Hoërskool Riebeeck omdat sy musiek as vak daar kon neem – ’n kunsvorm wat sy ook vreeslik geniet het.

Ná skool het sy haar by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangesluit, waar sy as forensiese kunstenaar gewerk het. Haar werk was hoofsaaklik om sketse vir identifikasie- en skedelrekonstruksie te teken.

Dit was egter in 1997 dat sy die besluit geneem het om heeltyds as kunstenaar te werk.

Aanvanklik het sy in die rolprentbedryf gewerk, waar sy produksiestelle gebou en toe begin skilder het. In dié tydperk het sy ook muurkuns vir ontwikkelaars gedoen en as binnehuise ontwerper gewerk.

In 2007 het Louw haar in Clarens gevestig, waar sy ’n klein kunsgalery geopen het. Hier kon sy meer aandag aan haar eie kunswerke gee en meer begin skilder.

Wanneer sy skilder, sal sy graag naakstudies doen of gesigte en motorfietse skilder.

Motorfietsry is ook een van haar passies.

Intussen het die tatoeëerbedryf haar begin interesseer.

Wanneer sy skilder, is dit op doek met verskillende mediums, en vir haar beeldhouwerk gebruik sy graag was, sement, veselglas of klei.

“Ek geniet dit om in stilte te werk, maar vind ook inspirasie met musiek. Dit hang natuurlik af met watter soort kunsstyl ek besig is.”

Haar werk word geïnspireer deur die gebeure in die lewe, die psige van die mens en gebeurtenisse wat haar emosioneel aanraak.

Louw beskryf haarself as ’n rustige mens wat ’n belangstelling in ’n groot verskeidenheid onderwerpe toon.

Sy het ’n groot liefde vir diere en stel belang in klippe, gebeendere en fossiele. Sy geniet dit om soveel moontlik kennis oor interessante onderwerpe in te neem en haarself só te verryk.

Louw hoop om vanjaar meer te kan skilder en beplan ’n uitstalling van haar kunswerke.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.