Insamelings vir Kersfonds op dreef

Die groep vrywilligers wat vanjaar al twee veilings ten bate van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds aangebied het, het reeds R34 671 vir dié fonds ingesamel.


Die groep vrywilligers wat vanjaar al twee veilings ten bate van Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds aangebied het, het reeds R34 671 vir dié fonds ingesamel.

Die eerste veiling was op 2 Mei by die Sewe Damme-aftreeoord by Bloemfontein, waar die inhoud van een van die eenhede baie suksesvol verkoop is, en die tweede was ’n veiling van antieke ware en losgoed by Bainsvlei-afslaers op 21 Mei.

’n Komitee wat bestaan uit Betsie en Attie Roux, Sobeth Jordaan, Jackie Steyn en Johan van Rensburg het gehelp om al die reëlings te tref, terwyl Pieter Erasmus van Bainsvlei-afslaers by albei veilings as afslaer opgetree het.

Dewet Claassens, trustee van die Kersfonds, het op ’n klein geselligheid Donderdag (21/07) by die Greenside-kwekery die komitee bedank vir hul onbaatsugtige werk en gesê dat geld wat op hierdie manier ingesamel word, regtig baie help waar daar nood is.

Geld wat vir die Kersfonds ingesamel word, ondersteun meer as 30 liefdadig­heidsorganisasies in die Noord-Kaap en Vrystaat wat daarvoor aansoek doen.

Die komitee het gesê dat hulle opgewonde daaroor is om soortgelyke veilings aan te bied – ook op plattelandse dorpe.

Betsie sê daar is in die verlede heelwat suksesvolle veilings op plekke soos Clocolan, Jan Kempdorp en Marquard aangebied.

“Ons wil dit weer doen. Dié veilings kan by ’n huis of selfs by kerke, landbou-sale en skole aangebied word,” sê Betsie.

“Mense is welkom om ons te kontak as hulle so ’n veiling wil aanbied.”

Sy sê benewens die geleentheid wat dit skep dat mense van die dorp en omgewing op so ’n veiling meubels, antiekware en ander losgoed verkoop, kan die kerk of skool wat die veiling huisves deur middel van kosstalletjies ook vir sy eie instansie geld insamel.

Erasmus verduidelik mense kan óf voorraad vir die fonds skenk óf voorraad soos meubels te gelde maak, waarvan ’n deel van die kopers- asook die verkoperskommissie aan die fonds geskenk word.

  • Skenkings vir die fonds kan gedoen word in die volgende rekening: Volksblad-Kersfonds: 102-891-9980, takkode 117-134. ’n Afskrif van die betaling­strokie kan per e-pos na ria@engo.co.za gestuur word.
  • Rig navrae oor die aanbied van veilings aan Betsie by 082-413-9275.

You need to be Logged In to leave a comment.