Weslander

Inmenging belemmer soektog na Joshlin

Volgens die ondersoekbeampte in die Joshlin Smith-hofsaak is die polisie se ondersoek na die verdwyning van die sesjarige uit die Middelpos- informele nedersetting in Februarie 2024 ernstig belemmer en in die wiele gery deur die optrede van ‘n politieke party en ‘n string sosialemedia-beïnvloeders.

Steveno van Rhyn en Kelly Smith luister na kapt. Wesley Lombard se getuienis. Credit: Alida Buckle

Volgens die ondersoekbeampte in die Joshlin Smith-hofsaak is die polisie se ondersoek na die verdwyning van die sesjarige uit die Middelpos- informele nedersetting in Februarie 2024 ernstig belemmer en in die wiele gery deur die optrede van ‘n politieke party en ‘n string sosialemedia-beïnvloeders.

Kapt. Wesley Lombard in die getuiebank in Saldanha. Credit: Alida Buckle / Weslander

Kapt. Wesley Lombard, die ondersoekbeampte in die saak verbonde aan die teen-ontvoeringeenheid het ook aan die hof gesê die optrede van die politikus Gayton McKenzie en ander sosialemedia-videomakers kon heel moontlik die hele tyd die mense wat Joshlin gehad het, sou sy nog in die omgewing gewees het, presies op hoogte gehou het van waar die polisie besig is. Dit kon hulle die kans gegun het om Joshlin rond te skuif sodat hulle die polisie kon ontwyk.

Volgens Lombard is daar video’s gemaak en gepubliseer op sosialemediaplatforms soos TikTok van onder meer die aand van die 26 Februarie 2024 waar Ayanda (Letoni) en Renz (Lourentia Lombaard) by hulle die huis bestorm is. Hy het ook vertel van video’s waar Ayanda teen sy wil gevange geneem is en na die polisiestasie vervoer is.

Regter Nathan Erasmus het hierop gevra waarom daar nog nie opgetree is teen die betrokke mense op die beeldmateriaal wat duidelik besig is om die gereg te dwarsboom en met die ondersoek in te meng nie.

“Mense wat sulke goed doen moet vervolg word.”

Lombard het ook getuig hoe die gemeenskap deur dieselfde partye doelbewus onder ‘n wanindruk gebring is dat die polisieondersoek ʼn paar dae ná Joshlin se verdwyning gestaak is.

Hy het getuig dat baie mense, ook McKenzie, die polisie as onbevoeg afgemaak het en gesê daar is nie hulpbronne vir die ondersoek nie en dat die ondresoek afgelas is.Die polisieman het benadruk en verduidelik hoeveel hulpbronne gebruik is om daagliks, onverpoosd, met die ondersoek voort te gaan.

“Die houding van die gemeenskap het dinge baie benadeel. Ons kon nie tot mense deurdring nie. Nie lekker gaan sit en gesels en hoor wat gebeur het nie.”

Lombard glo daar is gemeenskapslede wat met inligting vorendag wou gekom het, maar die alewige publisiteit het die polisie se taak bemoeilik. Daar is op sosiale media beweer dat die polisie goed wegsteek en inligting weerhou.

“Dit was duidelik dat hulle nie weet hoe ‘n ondersoek werk.” Hy het benadruk dat die polisie net verslag gee aan die familie van slagoffers.

Kelly se houding

In Lombard se eerste onderhoud met Kelly Smith, Joshlin se ma, wat saam met haar eertydse kêrel, Boeta Appolis, en sy vriend, Steveno van Rhyn teregstaan op aanklagte van ontvoering en mensehandel, was ses dae nadat Joshlin as vermis aangemeld is.

Hy het Kelly se optrede en houding as “skokkend” beskryf. As die pa van drie kinders, was dié gesoute speurder van die provinsiale teenontvoeringseenheid van georganiseerde misdaad, se getuienis dat hy uit die veld geslaan was toe Kelly twee of drie keer vir hom gesê het, “Die kind is nie meer hier nie, ek moet aangaan met my lewe. Ek het nog twee ander kinders ook.”

Sy het vir hom ook, soos vir ander getuies wat vroeër in die saak getuig het, baie ingenome gelyk en gesê haar kind het haar nou baie famous gemaak het.

Lombard meen dat dit ‘n onvanpaste ding van ‘n ma was om dit  sê, en hy het dit glo ook vir haar gesê. Hy het ook vir haar gesê baie mense help om na Joshlin te soek en hulpbronne word ingespan, maar dit het geen kommentaar by Kelly uitgelok nie.

Inteendeel het sy die onderhoud kortgeknip want sy en Boeta moes Spur toe gaan.

“Ek kon nie verstaan dat die ma van ‘n kind wat weg is, nie bereid is om van haar eie tyd op te offer om die polisie te help met die ondersoek nie. Hier sit is ons saam, ek wil dit vaslê op ‘n verklaring en jy sê, jy het nie tyd nie. Dit was skokkend.”

Rooi ligte het op verskillende tye by Lombard afgegaan oor Appolis en Kelly se ontwykende houdings wanneer hulle uitgevra word oor Appolis en Joshlin se verhouding.
Lombard het ook getuig hoe Kelly op ʼn ander geleentheid hom en sy kollegas begin vloek, skree en skel het toe sy ingelig is dat Boeta en Steveno gesê het die speurders moet háár vra wat sy met haar kind gemaak het.

Sy het glo’n paar keer geskree: “Hoe kan Boeta dit aan my doen! Ek het hom vertrou, ek is lief vir hom.”

Dit was vir Lombard duidelik dat sy oor Boeta bekommerd was, maar nie een keer uitgevra het oor hoe die soektog na Joshlin vorder nie.

Sy het glo ook sommer haar familie in haar afwesigheid gevloek en verkwalik vir die situasie waarin sy haar bevind het.

Erasmus het Lombard gevra om die presiese woorde aan die hof te sê waarop hy geantwoord het, “Ek vloek nie so lelik nie, Edelagbare.”

Steveno van Rhyn en Kelly Smith luister na kapt. Wesley Lombard se getuienis. Credit: Alida Buckle

Die geskel en gevloek het aangegaan, sy het gehuil.


Boeta en Steveno wat voor hul inhegtenisnemings afsonderlik ondervra is, het albei die vinger na Kelly gewys, maar nie een van die twee wou besonderhede gee of verduidelik waarom hulle dan sê sy sal weet nie.

Lombard se ondersoekspan het intussen ook ontdek dat Kelly as prostituut gewerk het.

Volgens Lombard is daar tot op hede geen leidrade gekry wat daarop dui dat Joshlin dood is nie. Hulle werk steeds vanuit die perspektief om haar iewers lewend op te spoor.

Die saak gaan Vrydag 28 Maart voort in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.