’n Rukkie gelede merk ’n vriend op dat hy nie eens meer probeer om klein besonderhede te onthou nie.
Hy gebruik bloot sy foon of rekenaar, en binne sekondes het hy bronne wat vir hom ’n antwoord gee op wat ook al ter sprake mag wees.
Sy opmerking laat my wonder of ’n oormaat inligting – iets waarmee ons daagliks gebombardeer word – werklik so ’n edele en goeie ding is.
Prakties gesproke open dit geleenthede vir mense om toegang tot inligting te verkry, ongeag waar hulle is. Hetsy Trompsburg of Chicago, grense bestaan nie meer nie.
Die oorlog in die Oekraïne is ’n goeie voorbeeld hiervan. In ’n oomblik kan jy duisende menings oor dieselfde saak kry, wat dan vir jou die inligting uitlig om self ’n genuanseerde en gebalanseerde mening te vorm.
Wel, dis die idee.
Studies en gepaardgaande gevolgtrekkings dui daarop dat toegang tot al die data en inligting mense meer afgesonderd, alleen, depressief en onvergenoegd kan laat voel.
Baie mense dink nie meer vir hulleself nie. Hoekom sou hulle? Alles word met ’n teelepel vir hulle gevoer. Hulle hoef net vir Google nader te trek.
Hoeveel keer hoor ’n mens hoe sekere kampvegters vir of teen byvoorbeeld die Covid-inentings hul menings as die waarheid verkoop? Gegrond op inligting wat hulle iewers in die stowwerige digitale ruimtes aantref en ’n nuwe baadjie aantrek vir reaksie van ondersteuners of kritici.
Die waarheid word ’n bysaak wat ’n goeie storie kan kelder.
Tyd vir stilte het ons nie meer nie. Ons waardeer nie meer die klein dingetjies soos ’n sonsopkoms nie. Waarom sal ’n mens nou na ’n werklike sonsopkoms kyk as jy na duisende op Facebook kan staar en wens jy was liewers daar?
Die skrywer John Trudell merk tereg op: “I am just a human being trying to make it in a world that is rapidly losing its understanding of being human.”
Om weg te kruip of die digitale wêreld vaarwel toe te roep is nie die antwoord nie.
Dalk kan ons ons menswees weer vind deur die bronne tot ons beskikking reg aan te wend. Besef dat ons eie denke en ondervindings tot kennis lei. Deur bewustheid te onderskei tussen dit wat vir ons goed en sleg is, en in daardie bewustheid te bid, mediteer of dink sonder enige eksterne faktore wat ’n wetende rol daarin kan speel.
Dan sal kennis weer mag word, en inligting – wel, inligting sal net ’n werktuig wees om daarby uit te kom.