Alle kinders tussen ses en 15 jaar oud in en om Bethlehem moet dringend teen masels ingeënt word omdat die Thabo Mofutsanyana-distrik nou die hoogste infeksiesyfer van dié siekte toon.
Elke de Witt, waarnemende woordvoerder vir die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê die departement het dit as ’n voorkeursaak uitgesonder omdat die vereisde optrede nie tot die nasionale veldtog teen masels, van 6 tot 20 Februarie, kan wag nie.
Die aanvanklike uitbreking was in die Thabo Mofutsanyana-distrik, maar masels kom nou ook in die Gariep- (Springfontein), Fezile Dabi- (Frankfort) en Lejweleputswa-distrik (Welkom) voor.
Ten minste die eerste 12 gevalle is by kinders jonger as vyf jaar oud aangemeld.
Mediese spanne sal skole en kindersorgsentrums in en om Bethlehem besoek om kinders in te ent. Ouers word versoek om hul samewerking en toepaslike toestemming vir die inenting te gee.
Onderwysers is gevra om op te let na leerlinge wat simptome van infeksie toon, naamlik kouekoors, ’n uitslag, ’n hoes, ’n loopneus of rooi oë. Die betrokke owerheid moet dan dadelik hieroor in kennis gestel word.
In nog ’n stap om infeksies te stuit, word mense wat in kontak met siek kinders was nagespoor en deur reaksiespanne getoets. Diegene sonder simptome word ingeënt.
Gesondheidsdienstepersoneel in die Thabo Mofutsanyana-distrik werk saam met munisipale gesondheidsbeamptes om skole in te lig oor simptome van die siekte en sodoende gesondheidsonderrig te verbeter, sê De Witt.