Johannes 8:1-11 vertel die verhaal van die vrou-sonder-naam in die middel van die kring.
’n Geboë figuurtjie, want sy is skaam, die skande van die oomblik wat soos ’n onwelriekende geur om haar hang. Skuldig!
Sy is as vrou uitgevang – op heterdaad betrap – deur die kenners van die wet. So staan sy ontbloot, naak in die oomblik van waarheid.
Hulle weet dit is net vroue wat aangekla kan word van owerspel. Daarom soek hulle alreeds klippe, want dood staan sy voor hulle. Binnekort leweloos – haar sondige liggaam – wanneer klippereën haar skedel gaan kraak en haar vel gaan oopskeur sodat sy haar Skepper sal ontmoet vir die finale uitspraak: Geweeg en te lig bevind.
Jesus se reaksie: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” (Johannes 8:7b)
Die vrou-sonder-naam in die middel van die kring hoor haar hartklop, soos dit teen haar bors slaan.
Sy wag in angs en bewing vir die eerste klip om haar te tref. Hoor sy die skuifel van voete? Mense wat hulle uit die voete maak?
Hulle twee is alleen agtergelaat. Geeneen van die skare het die oordeel oor haar voltrek nie.
Jesus sê, Ek doen dit ook nie. Dit is die evangelie. Jesus, Redder en Verlosser.
Vir haar het Hy sy lewe gegee, daardie oggend in die tempel van Jerusalem en ook later op die koppie buite Jerusalem.
Jesus praat ’n tweede keer met haar. Ontvang nou jou nuwe roeping: Jy is vergewe, vrygemaak en skoon gewas.
Gaan dan en leef.
- Van der Merwe is leraar aan die NG gemeente Kroonstad-Noord.