Hy klim leer na sukses

’n Oudleerling van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem het sy Protea-kleure in rotsklim verwerf en sal Suid-Afrika eersdaags in die Afrika-kampioenskap verteenwoordig.


’n Oudleerling van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem het sy Protea-kleure in rotsklim verwerf en sal Suid-Afrika eersdaags in die Afrika-kampioenskap verteenwoordig.

Die 30-jarige Jay-D Muller, ’n boorling van Bethlehem wat tans in Gqeberha woon, het in die spoed-afdeling vir mans (“speed male”) deelgeneem toe hy Protea-kleure verwerf het. Muller sal vir Suid-Afrika rotsklim op die Afrika-kampioenskapsbyeenkoms wat van 7 tot 9 Desember by Loftus Versfeld in Pretoria aangebied word.

Die algehele wenner by dié kampioenskap sal kwalifiseer om aan die Olimpiese Spele in 2024 in Parys, Frankryk, deel te neem.

“Ek het aan rotsklim begin deelneem in 2013 toe ek ’n eerstejaarstudent op universiteit was. Ek klim al tien jaar, waarvan ek agt jaar mededingend deelneem.”

Muller sê hy geniet dié sportsoort omdat dit van die brein en die liggaam vereis om struikelblokke aan die muur uit te werk en te oorkom.

Ter voorbereiding vir kompetisies doen hy daagliks krag- en spoedoefeninge.

Hy is ’n lid van die Valley Crag Climbing Centre-klub, asook van die Oos-Kaapse rotsklimfederasie-klub.

Hy is ook ’n rotsklimafrigter en spog met twee atlete wat in sy voetspore volg: Aniya Holder en John Stucken, wat altwee hul Protea-kleure verwerf het.

Al drie het in September in die nasionale rotsklimkompetisie in Durban staanplek op die podium verwerf.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.