Lees Ps. 23: Die Here is my herder.
Hier is ’n paar statistieke van ’n sekere siekte: Ongeveer 70 miljoen Amerikaners ly daaraan; 38 000 mense sterf jaarliks weens dié siekte; die toestand kos Amerika omtrent 70 biljoen dollar ’n jaar aan produktiwiteit; 64% van alle tieners ly daaraan en dit is grootliks die oorsaak vir swak skooluitslae; middeljariges ly die meeste daaronder; senior burgers is erge prooi daarvan; en 50% van die bevolking ouer as 65 jaar word bedreig deur hierdie siekte – en die behandeling sluit in mondskerms, kruietee en ander medikasie.
Kan jy raai wat dit is? Dit is slapeloosheid.
Miljoene mense in ons land het slapelose nagte oor dinge wat nog moet gebeur, wat nog gedoen moet word; vergaderings; werkstake wat lewens gaan verander; familietwis wat op die tafel is; daar is selfs egpare wat voor vanaand vrede gaan moet maak en nog soveel meer.
Gaan die boerdery uitwerk? Hoe gaan die oes lyk? Gaan die besigheid sy begroting aan die einde van die fiskale jaar haal? Sal ek nog volgende maand ’n werk hê?
Dit is alles dreigende omstandighede wat ons rustigheid steel.
Weens al dié redes het ek ’n Herder nodig, want alleen kan ek nie slaap nie.
Dit is ’n voorreg dat die Here, die Almagtige, die Onveranderlike, die Ewige, die Een wat altyd die beste weet, ons Herder is. Ek hoef nie bekommerd te wees oor hoe die pad lyk nie. Ek moet net seker maak dat ek die Herder volg.
- Müller is leraar aan die NG Moedergemeente Kroonstad.