Lees Matteus 11:28.
Die prediker Myron Augsburger vertel van ’n keer dat hy ’n gehoor in Amerika moes toespreek. Op pad lesingslokaal toe kom hy ’n man teë wat op ’n bankie sit.
“Is jy ’n prediker?” wil die man weet.
“Ja ek is,” antwoord Augsburger.
Die man vra toe: “Watter verskil moet dit in my lewe maak dat Jesus 2 000 jaar gelede aan ’n kruis gesterf het?”
“Het jy vriende?” vra Augsburger.
Ja, antwoord die man.
“Sê nou net een kom in groot moeilikheid?”
“Dan staan jy hom by.”
“Maar wat van as die moeilikheid baie ernstig raak?”
“Jy staan hom nog steeds by.”
“As dit doodsgevaarlik word –wanneer is die regte tyd om kop uit te trek?”
“As hy jou vriend is, hou jy nooit op nie,” sê die man ernstig.
Toe sê Augsburger: “God het na ons toe gekom as ’n vriend in Jesus. Ons was in die moeilikheid, maar Hy het ons bygestaan. Ons moeilikheid het ernstig geraak, maar Hy het vasgehou.”
Die man vra of dit is hoekom Jesus moes sterf.
“Jesus het gesê jou probleem is nou my probleem,” antwoord Augsburger.
Wanneer jy ’n God ken wat sê dat jou probleem nou syne is, sal jy nooit weer dieselfde wees nie.
- Müller is leraar aan die NG Moedergemeente Kroonstad.