Hulp vir herwinning

Herwinning en om ekovriendelik te leef is aan die orde van die dag.

Herwinnaars wat plastiek versamel om ’n inkomste te verdien, is deur lede van die DA ingelig oor die nuwe blou sak-projek wat hulle sal help om afvalplastiek makliker te versamel. Foto: verskaf

Credit: SYSTEM

Herwinning en om ekovriendelik te leef is aan die orde van die dag.

Daarom het die DA in Bethlehem die blousak-projek op Vrydag 23 Februarie van stapel gestuur.

“Die grootste rede waarom ons op dié unieke projek besluit het, is om die persone wat afhanklik is van herwinning om te oorleef, te hulp te staan,” sê DA-raadslid Estie Senekal.

Senekal verduidelik dat die persone wat herwinning doen vullissakke oopmaak om die items wat hulle wil verwyder, uit te haal. In die proses word die vullissakke geskeur en rommel lê oral rond. Wanneer vullisverwydering plaasvind word slegs sakke deur die munisipaliteit gelaai, en nie die rommel wat rondlê nie.

Om dié probleem vir inwoners en die herwinnaars op te los het die DA die blou sak-projek bekendgestel.

Inwoners word aangemoedig om die blousakke aan te skaf en dit te vul met plastiek vir die herwinnaars. Senekal sê dat die DA vir inwoners van wyk 9 in Bethlehem 1 000 sakke geskenk het om die projek te loods.

Hulle hoop om ander wyke ook so aan te moedig om herwinning te bevorder en om die rommel wat rondlê in buurte hok te slaan.

“Sodra almal bewus is van die blousakke en dit prakties kan uitvoer, hoop ons om ’n volgende kleur vir ander afvalmateriaal te implementeer.”

Hulle beoog ook om blou houers op strategiese plekke in Bethlehem op te rig waarin plasiek geplaas kan word vir herwinning.

“Dit is natuurlik ook ’n proses. Ons moet die persone wat herwinning doen inlig oor die nuwe blou sakke en hoe dit hulle van hulp sal kan wees. Dan hoop ons regtig dat die wonderlike herwinningsprojek vir die hele Dihlabeng ’n pluspunt sal wees en om so ook die haglike stortingsterreine te help verbeter.”

Persone wat belangstel om die projek te ondersteun kan die blou sakke by Dericks SPAR in Bethlehem koop. Die sakke word slegs gebruik om plastiek te herwin.

Lede van wyk 9 in Bethlehem is reeds besig om sakke op te rol wat aan inwoners uitgegee is. Hulle is Marlize Bosch, Sally van Tonder, Hanna Naude, Angela Maré, Estie Senekal, Lelanie Groenewald, Landi Volschenk, Nandi Cilliers, Maryna Volschenk en Gerida Beukes.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.