Huldeblyke stroom in vir Elsje Neethling ná sy kankerstryd verloor

Honderde huldeblyke stroom op sosiale media in nadat dit aan die lig gekom het, dat Elsje Neethling haar stryd teen kanker verloor het.


Honderde huldeblyke stroom op sosiale media in nadat dit aan die lig gekom het, dat Elsje Neethling haar stryd teen kanker verloor het.

Elsje (43), suster van die swemmer Ryk Neethling, is Saterdag oorlede nadat sy die grootste deel van haar lewe kanker gehad het.

Haar ouers, Ryk senior en San-Marie “is op die oomblik so stukkend dat hulle te stom is om te praat” ná die dood van hul dogter oor die naweek.

Haar familie het vroeër in ’n verklaring gesê hul pragtige en eiesoortige dogter en suster was rustig, maar “het geveg tot die einde soos net sy kon”.

Elsje, ’n oudjoernalis van Volksblad, was 13 jaar oud toe breinkanker vir die eerste keer by haar gediagnoseer is. Dokters het toe geglo sy het net ’n paar weke om te leef.

Owen Kock, oud-kollega en vriend van Elsje, skryf of Facebook:

“Vandag is my hart in stukke oor die nuus van die afsterwe van my jarelange vriendin Elsje Neethling. Om te dink, met ons laaste gesprek vroeër vanjaar, was jy die een wat vir my gesê het, jy is daar as ek wil praat oor my seuntjie wat kanker het, dis die positiewe mens wat jy was, nie een oomblik het jy aan jouself gedink nie. Dis die goeie herinneringe wat ek van jou sal koester, jy het altyd ander in moeilike situasies eerste gestel.

“Aan jou ouers, Ryk en San-Marie, my innige meegevoel, en so ook aan Rykie (soos jy altyd na jou broer verwys het Elsj), ook Jean-Marie en CJ, julle moet sterk staan. Elsj was ‘n ongelooflike sterk mens, ten spyte van haar siekte. Haar lus vir lewe is ook iets wat ek bewonder het van die eerste dag toe ek haar doerie tyd in Bloemfontein ontmoet het waar ons eers kollegas by Volksblad was en toe later goeie vriende geword het. Dankie vir al die lekker kuiers en baie geselsies my liefste Elsj.

“Jy is nou op ‘n beter plek, maar vir die wat haar nie geken het nie, wil ek tog noem, Elsj het nooit dat haar siekte haar onder kry nie, al het dit hoe swaar gegaan. Lank sal sy bly lewe in almal met wie jy in aanraking gekom het, se harte. Daar is nou niemand wat my meer varknek sal noem nie! Sag slaap liefste Elsj, tot ons mekaar weer weer sien!”

Elsje Neethling het in 2019, toe sy van ‘n rolstoel afhanklik en haar linkerbeen verlam was, ‘n sewende plek behaal by die wêreldbyeenkoms vir aangepaste branderplankry in San Diego in Kalifornië. Foto: Verskaf

Paul Cassar, oudskoolhoof van die Eunice High School for Girls in Bloemfontein, het in ’n boodskap gesê hy ervaar ’n groot gevoel van verlies omdat Elsje ’n integrale deel van dié skool was.

Hy skryf dat hy haar net ses weke geken het “toe haar en jul lewe verander het. So, ek het net vir Elsje die vegter geken.”

Sy het haarself soveel laat bereik, sê Cassar.

“Ek het haar verhoogde sin van vreugde, haar direktheid, haar detail vir kleur en taal waardeer.

“Sy het woorde, ’n kenmerkende stem en haar eie kreatiewe styl gehad om haar lewenslus aan die wêreld uit te druk.

“Hierdie afgelope 30 jaar is deur ’n verterende persoonlike stryd oorheers.”

“Hierdie afgelope 30 jaar is deur ’n verterende persoonlike stryd oorheers.

“Die lewe was ingewikkeld, nooit maklik nie, maar daardie vonk en glimlag het altyd deurgeskyn.”

Anena Burger, vriendin en oud-kollega vertel op Facebook, “Ons sal altyd die dag met die dolfyne en die sonvis hê. Ek sal nooit die opwinding van die dag vergeet nie Elsje. Jy het eers gekeer. “Moet asseblief nie soveel moeite vir my doen nie. Moenie julle dag vir my bederf nie.” Ekskuus? Se voet, jy kom saam. En ons dra jou in jou rolstoel op die boot. Die uitdrukking op jou gesig toe jy die dolfyne kon beleef.

“Ek dink aan die aande wat ons gekraai het van die lag as ons jou rolstoel in die motor moes laai – ek het altyd my gat af gesukkel om hom reg gevou of ingelaai te kry. Ek dink aan hoe hardekwas jy was. Jy sal sélf in die motor kom en toe sit jy amper een aand die sitplek mis – nog ‘n harder gelag. Hoe jy op jou boude teen die huis se trappe opgegaan het, want ek mag nie gehelp het nie. Nou maar reg, sukkel dan nou maar self.

“Ek dink aan die aand wat ons daardie vuurwarm fajitas aangedurf het en ons omtrent gehuil en gestik het soos ons dit probeer afwurg het. But beggars are never choosers. Jy waardeer net. Jy het nooit geoordeel nie. Jy het mense aanvaar met hul omstandighede – nes hulle is. Jy het nie gekla nie – al was daar sere. Dit het altyd “goed” gegaan – al het ons geweet dit gaan nie goed nie.

“Jy was fiercely independent. Niemand en niks sou jou vryheid inperk nie – nie eers hierdie ding kanker nie. No ways, nie vir Elsje Neethling nie – maak nie saak wat die uiteinde sou wees nie. Maar kanker het jou nie gewen nie. Jy het gewen. Jy het die beter stryd geveg. Jy het vir hierdie toestand ‘n middelvinger gegooi en gesê: “Not me!”

“Ek weet dit was ten spyte van hierdie positiwiteit soms ‘n vrek swaar kruis om te dra – meer as soms, al het jy dit nie vir ons gewys nie. Jy wou nie anders behandel word nie. Die weer in Hermanus was Saterdag grou en sopnat, maar die see was plat en kalm. Ek moes toe seker al geweet het. Dêmmit girl, ons gaan jou so baie mis. Fief gaan seker daai bont skoene eendag nog raam. Jou beskermings pendant hang steeds om die motor se spieëltjie waar jy hom self nog gehang het. Jy is altyd by ons – nooit ver nie. Saam met ons – op die toneel, vriendin, op die toneel!

Die familie beplan ’n diens vir die tweede week in Januarie, maar daar is nog nie finale reëlings getref nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.