Hoe kry ’n boom gebot as die omstandighede swaar is? Hoe groei ons as dit swaar gaan en die weersomstandighede is teen ons? Deur ons wortels – stewige en gesonde wortels wat diep in God geanker is.
Jesus waarsku gelowiges dat, in die laaste dae, moeilike dae kan aanbreek. In die tyd tussen Jesus se Hemelvaart en wederkoms sal daar dae kom wat herinner aan droogte, peste en klimaatsprobleme.
Toe sommige oor die tempel praat, oor die pragtige klippe en gewyde geskenke waarmee dit versier was, sê Jesus: “Alles wat julle sien – daar sal ’n tyd kom dat nie een klip op die ander gelaat sal word nie. Alles sal afgebreek word.
“Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is.
“Daar sal tekens wees aan son, maan en sterre. Op aarde sal daar radeloosheid onder die volke wees uit angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe.” (Lukas 21:5 en 6, 20 en 25)
Maak dié soort gepratery jou bang? Gryp vaster aan jou ankers sodat jy steeds voluit kan leef en groei.
Dit is moontlik om in moeilike tye met groei, gesondheid en vrugtig te leef.
“Dit gaan goed met die mens wat in die Woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.” (Psalm1:1 tot 3)
Ondanks die dinge wat uiterlik gebeur, hang lewe af van die waardevolle ankers wat in die Woord uitgespel word.
Gebed
Here, dankie dat ek kan leef en lag – al gebeur die lewe om my soos dit vandag inderdaad is.
Amen.
- Els was leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.