Lees Lukas 1:5-25.
My oupa-hulle het in Namakwaland gewoon en ons in die Vrystaat. Deur daardie laaste droë stuk Karoo op pad om in Namakwaland te gaan kuier, het ons as kinders altyd gekerm: Dis nie meer lekker nie, draai om. My ma het dan geantwoord: Julle sal maar moet soet wees, want jul pa gaan nie omdraai nie.
Elisabet en Sagaria was regverdig in die oë van God en het, volgens Lukas 1:6, onberispelik volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here geleef.
Tog was hulle kinderloos, omdat Elisabet onvrugbaar en albei van hulle al op ’n gevorderde ouderdom was, lui Lukas 6:7.
Goeie mense op gevorderde leeftyd wie se lewe nie volledig was nie. Soos ons wat ook bid, maar steeds baie vrae en min antwoorde het.
Sagaria en Elisabet het ware geduld beoefen; regverdig gebly en God se voorskrifte bly volg. Die definisie vir Bybelse geduld: die vermoë om nie iets te jaag nie, maar die pad te vertrou. Geduld is om God toe te laat om God te wees.
God het na my omgesien deur die minagting van die mense van my weg te neem, is die boodskap in Lukas 1:25. Wanneer die lewe rem (minagting), is God aan die stuur en Hy gaan nie omdraai nie. Ons bly soet, want dit is wat óns kan doen om die pad lekkerder te maak. God sal aanhou ry na waar ons moet wees, want Hy sien om na die regte koers vir my lewenspad.
Hou jy geduld met die bestuurder se aanhou, of kerm jy aanmekaar oor die onaangename pad en maak die lewe só ellendig?
Gebed
Almagtige, alwyse God, ek smeek, as nietige mens, nie net vir volharding nie, maar ook vir geduld met U pad. Amen.
Els is ’n
oudleraar van Kroonstad.