Ek het my al verbaas oor die vermoë van ’n vrugteboom om sy lewensdoel te bereik. Soms is omtrent alles in die natuur teen die boom – droogte, insekte en hael – maar ten spyte daarvan vind jy tog dat die boom bot, bloei en vrugte dra.
In Lukas 22, vers 3 tot 4, is Jesus aan die rand van verraad. Die Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die 12 was, ingevaar.
Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hul hande kan laat kom. Op die vooraand van die grootste Joodse fees, die Pasga, het een van sy eie Hom verraai.
As jy ’n gelowige is, het jy hierdie gedeelte al baie gehoor. Maar wil jy nie vandag daarna met ’n spesifieke klem kyk nie?
In hierdie laaste gebeure van Jesus se aardse lewe maak Hy steeds geen verskonings nie.
Hy is gestuur met ’n opdrag om vir sondaars te kom sterf. Hy vind vashouplek aan sy lewensdoel.
Deur alles beskerm Hy nie sy eie lewe nie, maar was Hy voete, bedien Hy nagmaal aan sy verraaier en sterf Hy vir liefdeloses. So dra Hy vrugte wat ’n verskil maak; ’n wêreldse en ewige verskil.
’n Lewe wat fokus op wie ons is, is nog pessimisties. Nog ’n gemaksone.
Hou jy nog vas aan jou skeppingsdoel sodat jy stewig staan en ’n verskil maak?
Gebed
Jesus, ek besef net weer: Lewe by U is nie die maklikste pad nie, maar die beter pad wat uitloop op vrugte dra.
Amen.
- Els is leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.