Hoop wel orals te vinde

“Dit is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie deur mag of deur krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” – Sagaria 4:6.


“Dit is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie deur mag of deur krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.” – Sagaria 4:6

Coenie de Villiers het ’n liedjie “Die tjellis van Sarajevo”. Hierdie liedjie is gegrond op die ware gebeure rondom die tjellis Vedran Smailovic, tydens die beleg van die stad Sarajevo.

Op 27 Mei 1992 was die tjellis besig om te oefen. Net oorkant die pad was ’n lang tou mense wat gewag het om brood te koop by een van die weinige broodwinkels wat nog oop was.

Terwyl die tjellis by die ruit uitkyk na die honger mense wat toustaan vir ’n stukkie brood, tref ’n bom, sonder enige waarskuwing, daardie plek en 22 mense is dood.

Nadat die rook en stof verdwyn het, lê 22 mense dood en hul enigste oortreding was om te wag op ’n bietjie brood.

Dit is toe dat die musikant besluit dat hy iets gaan doen; maar al wat hy kan doen, is musiek maak.

Hy tree anders op as wat ’n mens sou verwag. Die volgende dag trek hy formeel aan soos vir ’n uitvoering, dit wil sê in sy manel.

Hy neem ’n klein plastiekstoeltjie en gaan sit in die puin en bespeel sy tjello.

Dit doen hy 22 dae lank om só elkeen van die mense wat in die bomaanval dood is te vereer. Al 22 dae speel hy die Italiaanse komponis Tomaso Albinoni se “Adagio in G-mineur.”

Hierdie man het besluit dat die vyand nie sy siel sou vat nie.

Adagio van hoop.

Hierdie hoop kan ons ook hê as ons onthou om nie op ons eie krag, geweld en vindingrykheid staat te maak nie. Alleenlik met die gees van die Here wat saam met ons is, kan ons sukses behaal.

  • De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem–Noord.

You need to be Logged In to leave a comment.