Die voortslepende rioolprobleme in Kroonstad het inwoners moedeloos. Benewens die voortdurende stank waarin hulle moet leef, het hulle te kampe met die skade wat die rioolvloei aan paaie en infrastruktuur aanrig.
Die ironie is dat die riool goeie bemesting is, wat die bosse welig laat groei – en in droë toestande hou dié plantegroei ’n brandgevaar in. Onlangs het ’n brand te midde van die digte bosse in Suidrand uitgebreek.
Vergadering op vergadering is al gehou, en verskeie hofsake is begin oor die riool. Steeds bly dit ’n probleem wat keer op keer op die tafel gelê word.
Is dit moontlik weens ’n tekort aan kundigheid – dat niemand eintlik weet hoe om die probleme op te los nie? Of is die probleem so groot en buite beheer dat daar eintlik nie veel aangedoen kan word nie?
Dit is tragies om te sien hoe die dorp, wat voorheen ’n trekpleister vir toeriste was, stadig maar seker verdrink in riool.
Daar is bykans nie ’n woonbuurt in die dorp wat nie gebuk gaan hieronder nie. VrystaatKroon het al telkemale hieroor berig en die saak het al in die president se kantoor gedraai. Dit word van bakboord na stuurboord verwys.
Die hoop bestaan nou dat die nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) en Dean Macpherson, minister van openbare werke en infrastruktuur, lig in die krisis sal kan bied.