Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem is as die algehele wenners van die jaarlikse Graanveld-atletiekbyeenkoms aangewys, nadat atlete van dié skool behoorlik stof in hul teenstanders se oë geskop het.
Dié jaarlikse atletiekbyeenkoms het op Donderdag 8 Februarie by die Goblepark-stadion in Bethlehem plaasgevind.
Voortrekker kon nie net daarin slaag om die meeste goue medaljes te verower nie, maar het ook die meeste medaljes by die byeenkoms ingeoes.
Uit die 23 skole wat aan die Graanveld-atletiekbyeenkoms deelgeneem het, was dit Voortrekker se atlete wat verseker het hulle wen die byeenkoms oortuigend.
Die dag is ook gekenmerk deur die groot aantal rekords wat verbeter is en Voortrekker het ‘n totaal van 28 rekords laat spat.
Die Voortrekker-aflosspanne, het die skare op hul voete gehou en het agt uit die tien aflosnommers gewen. Hulle het vier aflos-rekords in die afdeling vir meisies o.14, seuns o.14, seuns o.17 en seuns o.19 verbeter.
’n Ryke medalje-oes met 218 medaljes waarvan 97 goud, 66 silwer en 55 brons is deur die Trekker-atlete ingewin.
“Met harde werk, toewyding, vasberadenheid van atlete asook afrigters, wat aangevul is deur die geesdriftige ondersteuning van ouers, onderwysers en maats, is bewys enigiets is moontlik. Ons sien uit na res van die atletiekseisoen,” sê Benette Brits, adjunkhoof van die Hoërskool Voortrekker.