Hoërskool Voortrekker ‘n sewende keer heel beste in interhoër-atletiek

Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem was bykans onoorwonne in vanjaar se Vrystaat-interhoër-atletiekkampioenskap. Voortrekker is ‘n sewende keer as algehele wenner op dié byeenkoms aangewys.


Die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem was bykans onoorwonne in vanjaar se Vrystaat-interhoër-atletiekkampioenskap. Voortrekker is ‘n sewende keer as algehele wenner op dié byeenkoms aangewys. 

Die kampioenskapsbyeenkoms is op 8 en 9 Maart in Bloemfontein aangebied, en Voortrekker het oortuigend gewen – as een van 190 deelnemende Vrystaatse skole.

interhoër-atletiek

Carise van Rooyen, ‘n atleet van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, het twee rekords opgestel op die Vrystaat-interhoër-atletiekkampioenskapsbyeenkoms, wat op 8 en 9 Maart in Bloemfontein aangebied is. Foto: VisuallySpoken

“Talent, toewyding en topafrigters is die wenresep van die 107 Voortrekker-atlete wat vir seker hul stempel afgedruk het,” sê Benette Britz, adjunkhoof van die Hoërskool Voortrekker.

Voortrekker se atlete het sewe rekords laat spat.  

Nelisa-May Doman het die rekord in die 5 000 m stap-nommer vir meisies o.14 van 32:04:35 na 29:02.28 verbeter; Cara Rautenbach het die hoogspringrekord vir meisies o.14 van 1,61 m na 1,63 m verbeter; en Anke Gunther het die 2 000 m-hindernisnommer vir meisies o.16 in ‘n tyd van 07:19.05 afgelê, teenoor die rekord van 07:36.38.  Op haar beurt het Mieke-Louise Britz die rekord in die 800 m-nommer vir meisies o.17 van 2:14:13 na 2:10:39 verbeter.

Carise van Rooyen het skitterend gevaar toe sy twee rekords op die kampioenskapsbyeenkoms opgestel het. Sy het die 2 000 m-hindernisnommer vir meisies o.17 in 07:03.39 voltooi, in vergelyking met die vorige tyd van 07:41.74, en die rekord in die 800 m vir meisies o.17 van 2:14.13 na 02:08.50 verbeter. Liam-Lloyd Doman het in die 1 000 m-stapnommer vir seuns o.17 die rekord van 58:37.00 na 53:15.73 verbeter.

Voortrekker se aflosspanne het vyf goue medaljes verower. ‘n Ryke medalje-oes, in die algemeen, was die gevolg van puik tye en afstande: 79 medaljes, waarvan 42 goud was, 19 silwer en 18 brons. 

Andi Wolmarans, atletiekhoof en afrigter van Voortrekker, het sy dank uitgespreek teenoor elke afrigter wat individueel by die skool se atlete betrokke is.

“Sonder hul kundigheid en vaardighede sou ons atlete nie met hierdie prestasies kon spog nie,” sê Wolmarans.

Voortrekker het boonoop dié seisoen die Graanveld- en die Oos-Vrystaat-atletiekbyeenkoms oorheers. Wolmarans sê die wil om te wen en met trots uit die stryd te tree, was op elke byeenkoms duidelik sigbaar.

interhoër-atletiek

Mieke-Louise Britz van die Hoërskool Voortrekker het op die Vrystaat-interhoër-atletiekkampioenskapsbyeenkoms ’n rekord in die 800 m-nommer vir meisies o.17 opgestel. Foto: VisuallySpoken
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.