‘n Groot eer het die Griffons hoërskole-rugbyvereniging asook die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem, te beurt geval toe die aankondiging gemaak is, dat Voortrekker vir die eerste keer die gasheer van ‘n nasionale rugbytoernooi, die o.17- interprovinisiale Sewes-toernooi in Bethlehem, sal wees.
Die interprovinsiale o.17- sewestoernooi sal vanaf Donderdag, 26 September tot Saterdag 28 September in Bethlehem plaasvind. Die geleentheid word by Patriae Park, van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem aangebied. Wedstryde sal op Vrydag, 27 September en Saterdag 28 September om 08:00 soggens begin. Alle wedstryde sal regstreeks via die Super Sport Schools media platvorm gestroom kan word en op Supersport kanaal 216 met ’n tydsvertraging uitgesaai word, asook herhalings in die weke wat volg.
In die twee dae gaan die provinsiale spanne en ? span van Namibië teen mekaar kragte meet, in vier groepe soos bepaal deur die vorige jaar se finale rangorde. Die spanne sal dan uitspeel tot in finale om die bekerwenner tot die plaatwenners te bepaal.
“Ons is opgewonde en bevoorreg om ‘n nasionale toernooi van hoogstaande gehalte hier in Bethlehem aan te bied. Dus nooi ons alle sportliefhebbers om die geleentheid, waar topspelers van die land gaan kragte meet, te ondersteun,” sê Gys Coetzee, Voorsitter van die Griffons-hoëskole rugbyvereniging en skoolhoof van Voortrekker.