Ná ’n opwindende seisoen op die sportveld waarin agt skole oor die Vrystaat en Noord-Kaap heen meegeding het in die Wesgrow Sentrale Skolesportreeks, was dit die Hoërskool Bethlehem Voortrekker wat as die algehele wenner van die reeks aangekondig is.
Op die prysuitdeling wat Dinsdag 20 Augustus by die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein aangebied is, is die algehele wenners en die afdelingswenners aangekondig.
Die reeks wat sedert Februarie aangebied is, het talle hoogtepunte opgelewer. Danksy topgehalte skolesport en hope aksie lok die reeks reaksie vanuit vele oorde.
Die reeks het ook reeds in 2023 begin met ‘n laerskoolafdeling.
Gys Coetzee, uitvoerende direkteur van die Wesgrow-reeks se reëlingskomitee, sê dit was wonderlik om die Universiteit van die Vrystaat (UV) en Sentraal24 as vennote tot die reeks te verwelkom. “Die betrokkenheid van instellings soos hierdie maak dit moontlik vir skole om aan leerlinge geleenthede te bied tot verdere ontwikkeling.”
Coetzee sê dit is ‘n voorreg vir skole om deel van ‘n reeks te wees waar elke leerling die geleentheid kry om te kan deelneem. Massadeelname en gesonde mededinging bly die grondslag van die reeks. As vereiste vir deelname word daar ‘n minimum getal gekoppel aan die hoeveelheid spanne wat in elke sportkode moes deelneem. Dit verseker dat elke speler sy skool mag en kan verteenwoordig.
Jeannine van Zyl, hoofbestuurder van die gemeenskapskoerantgroep Sentraal24 waarvan VrystaatKroon een is, sê dit was ’n voorreg om vanjaar as ‘n media-borg by die Wesgrow-reeks betrokke te wees. “Ons het hierdeur ons verbintenis tot skole in ons streek en die belangrikheid, asook invloed, van skolesport in ons streek bevestig. Ons betrokkenheid by dié reeks met massadeelname het gehelp om die reeks te bevorder, sigbaarheid en blootstelling te verhoog en om die talente en prestasies van leerlinge uit te lig.
“Dit was vir ons ’n voorreg om as mediaborg op hierdie manier steun te bied aan skole in die sentrale deel van ons land wat op ’n hoë vlak in verskillende sportsoorte meeding – en waar gesonde kompetisie heers. Dit was ook vir ons ’n voorreg om verhoudings met ander borge en die skole te versterk om toe te sien dat die reeks van krag tot krag sal gaan.”
Om die finale en algehele wenner van die reeks te bepaal, is prestasie van alle spanne vanaf onder 14 tot en met die onder 19 spanne in berekening gebring, wat meegebring het dat BVHS die algehele wenner was. Die span se o.19A-meisies-hokkiespan was ook die wenner in die meisies-afdeling. Die Hoërskool Witteberg was in die algehele vierde plek en die Hoërskool Trio in die sewende plek.
Die Hoërskool Diamantveld se o.19A-rugbyspan het die reeks onoorwonne afgesluit en die beker gelig op ‘n puik seisoen. Net so het die
Hoërskool Jim Fouché die netbalafdeling gewen, met die o.19 A- en o.19B-spanne
wat onderskeidelik eerste in hul ligas gekom het. Die spanne van die Hoërskool
Witteberg (o.19C) en die Hoërskool Sentraal (o.19D) het eerste in hul
liga-groep in die netbal geëindig.
In die afdeling
vir seunshokkie het Jim Fouché gewen, terwyl die Hoërskool Fichardtpark se
o.18A-span bo-aan die punteleer in dié afdeling was. JF se o.18B-span het hul
liga gewen en daarvoor help sorg dat dié skool die seunshokkietrofee wen.
Bethlehem Voortrekker Hoërskool het die o.18 meisies-hokkie-afdeling oortuigend
gewen.
“Dit is wonderlik om terug te kyk na ‘n seisoen vol aksie. Hoewel sommige spanne se seisoene met meer uitdagings gepaard gegaan het as ander, was dit wel ‘n belewenis om die deelname tussen skole te beleef en die kameraderie van spansport te aanskou. Dankie aan elke speler, afrigter en ouer van elke skool wat die reeks ondersteun en jul skole met trots verteenwoordig het,” het Coetzee gesê.
Die reeks behou sy verbintenis met SuperSport wat danksy die Super Sport Schools-platvorm wedstryde aanlyn uitgesaai het. Dit maak dit moontlik dat die reeks wat oor drie provinsies strek verdere blootstelling aan belanghebbendes gee.
Die reeks het via sportmanskap bewys hoe mense kan saamtrek en in goeie trou optree tot almal in die gemeenskap se voordeel. Ons sien met verwagting uit na die roemryke toekoms van die reeks.