’n Gr. 7-leerling aan Trio Primêr in Kroonstad het die atletiekseisoen op ’n hoë noot begin.
Anri Rautenbach (12) het op 12 Februarie aan die Laerskool Fichardtpark se Prestige-atletiekbyeenkoms in Bloemfontein deelgeneem en die hoogspringrekord vir meisies o.13 na 1,60 m verbeter. Danksy dié prestasie is sy as die beste hoogspring- en veldatleet op die byeenkoms aangewys.
Boonop het sy op die Kroon-atletiekbyeenkoms, wat op 15 Februarie op Loubserpark in Kroonstad aangebied is, die hoogspringrekord vir meisies o.13 van 1,43 m na 1,58 m verbeter.
Voorbereiding vir die Noord-Vrystaat-atletiekbyeenkoms, wat Saterdag (05/03) in Sasolburg plaasvind, kry nou voorkeur.
“In Januarie het Anri saam met Theo Senekal van Kimberley gewerk om haar hoogspringtegniek vir die seisoen op te skerp,” sê ma Sorita Rautenbach.
“Ons bewonder haar deursettingsvermoë en harde werk om haar doelwitte te bereik.”
In November 2021 het Anri op die interprovinsiale atletiekbyeenkoms in Germiston meegeding en die derde plek in haar ouderdomsgroep behaal. Boonop het sy die tweede plek op die Suid-Afrikaanse hoogspring-ranglys vir meisies o.12 beklee.
Anri is ’n lid van die Going 4 Gold-atletiekklub en ’n kranige netbalspeler en gimnas. Dié jong atleet sien elke terugslag as ’n geleentheid en skryf haar prestasies aan genade en harde oefening toe.