Hoë hoogtes bereik ondanks uitdagings

’n Hoërskool in Qwaqwa se landelike gebied is baie trots op ’n leerling wat ondanks moeilike omstandighede nege onder­skeidings behaal het.


’n Hoërskool in Qwaqwa se landelike gebied is baie trots op ’n leerling wat ondanks moeilike omstandighede nege onder­skeidings behaal het.

Karabelo Sekobolo (18), wat albei haar ouers aan die dood afgestaan het, het met die ondersteuning van haar oupa Samuel uitgeblink in Sotho, Engels, wiskun­de, lewensoriëntering, rekening­kun­de, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, geografie, besigheidstudies en toerisme.

Segogo Molete, hoof van die Rantsane Secondary School, sê die leerlinge “slaap letterlik van dag een af, wanneer hulle in gr. 8 kom, in die klaskamer”. Die skool het geen koshuisgeriewe nie.

“Hulle slaap ook in die ou biblioteek wat as ’n koshuissaal gebruik word.”

Wat etes betref, is hulle van borge afhanklik.

Hy straal van trots.

“Ons mentor hierdie kinders asof hulle ons eie is.”

Hy sê hy het gebid dat Karabelo tien onderskeidings behaal, want sy het in die Junie-eksamen, asook in die eksamen in September, soveel behaal.

Die skool in Makwane was van 2013 tot 2020 onder die Vrystaat se tien topskole in wiskunde en fisiese wetenskappe, en van 2016 tot 2020 onder die toptien in rekeningkunde.

Altesaam 35 oudleerlinge van dié skool studeer oorsee.

Die skool het van 2013 tot 2017 ’n 100%-slaagsyfer behaal, en van 2018 tot 2021 ’n slaagsyfer van 99%.

“Ons leef eenvoudig ons slagspreuk uit: Deur stryd, deur harde werk, deur moeilikhede sál ons hoë hoogtes bereik.”

Karabelo gaan neurochirurgie aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Sy wag om van beurse te hoor.

“Ek droom daarvan om my eie neurochirurgiepraktyk te hê en navorsing te doen wat die wêreld ’n beter plek sal maak.”

Haar pa is dood toe sy ’n jaar oud was, en haar ma, Masiya, is dood toe Karabelo in gr. 9 was.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.