Hoe bly die VS, slim-slim so

Dit is die Vrystaters wat weer in die matriek­eindeksamen die voortou geneem en die hoogste slaagsyfer behaal het.


Dit is die Vrystaters wat weer in die matriek­eindeksamen die voortou geneem en die hoogste slaagsyfer behaal het.

Met ’n slaagsyfer van 88,5% vir 2022 spog die Vrystaat ’n vierde jaar agtereenvolgens met die titel van topprovinsie.

Die 2022-matrikulante is deur Angie Motshekga, minster van basiese onderwys, geloof vir hul harde werk en deursettingsvermoë in die twee en ’n half jaar dat hulle in die Covid-19-pandemie moes skoolgaan.

’n Groep van 940 366 matriekleerlinge het einde verlede jaar die nasionale seniorsertifikaateksamen (NSS) afgelê.

Die Hoërskool Paul Erasmus in Senekal het ’n 100%-slaagsyfer behaal en die Hoërskool Ficksburg ’n slaagsyfer van 95,8%.

Wian Burger

Die Hoërskool Witteberg en Voortrekker in Bethlehem spog albei met ’n 100%-slaagsyfer.

In Kroonstad het die Hoërskool Trio ’n slaagsyfer van 98,4% behaal.

Trio is as die beste rekeningkunde-skool aangewys en is onder die tien topskole wat wiskunde betref.

Volksblad het berig dat Hafsah Ali, ’n leerling aan die Hoërskool Ficksburg, die eindeksamen met nege onderskeidings geslaag het.

Sy het onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, rekeningkunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, rekenaartoepassingstegnologie, lewensoriëntering en alpha-wiskunde behaal.

Wian Burger, onder­hoofseun van die Hoërskool Voortrekker vir 2022, spog met ’n gemiddelde van 92% en het agt onderskeidings behaal: in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskap, lewens­wetenskap, ingenieursgrafika en -ontwerp, rekenaar­toepassingstegnologie en lewensoriëntering.

Hy sê dat dié sukses nie sonder harde werk gekom het nie. Wian beplan om vanjaar elektromeganiese ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom te studeer.

Megan van Biljon

Lénor Roode, wat aan die Hoërskool Paul Erasmus matrikuleer het, het ook agt onderskeidings behaal: in Afrikaans, Engels, wiskunde, rekeningkunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskap, ingenieursgrafika en -ontwerp, en lewensoriëntering.

Lénor Roode

Sy gaan vanjaar fisioterapie aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer.

Megan van Biljon, wat verlede jaar die hoofmeisie van die Hoërskool Trio was, spog met sewe onder­skeidings. Die vakke waarin sy uitgeblink het, is Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskap, lewens­wetenskap, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering. Sy gaan vanjaar medies aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer.

Die Hoërskool Witteberg se Ella Steynberg is as die skool se toppresteerder vir 2022 aangewys, met sewe onderskeidings. Sy is boonop onder die 50 topmatrikulante in die Vrystaat. Die vakke waarin sy onderskeidings behaal het, is: Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskap, lewensoriëntering, musiek en ingenieursgrafika en -ontwerp.

Gustav Hauptfleisch van Witteberg, wat ook sewe onderskeidings behaal het en onder die top 50 is, is kort op haar hakke.

Ella Steynberg

You need to be Logged In to leave a comment.