Hieroor is geen twyfel

Lees: 1 Johannes 5:6-12.


Lees: 1 Johannes 5:6-12

Kan ’n mens seker wees? Oor God? Of jy werklik God se kind is? Oor jou saligheid, jou redding?

Oor die hemel?

Nee, nooit nie.

Nie as jy dink dat sekerheid lê in jouself en of jy al die wette in die Bybel getrou nakom nie.

Die tragiese is dat so baie gelowiges onseker sterf. Hoekom? Want dit kan nie anders nie. Hulle leef ’n grys lewe.

Hulle stort nie roekeloos oor die afgrond van sonde nie, maar bereik ook nie die bergtoppe van God met oorgawe nie.

Hulle bars nie los in vloekwoorde nie, maar ook nie in lofprysing vir God vir dit wat Hy gee nie.

Baie versigtig stap hulle op die paadjies van godsdienstige middelmatigheid.

Niks kan teen hul Christenskap gesê word nie, maar daar kan ook nie veel gesê word in die guns daarvan nie.

Van so baie dinge, eintlik van alles, is ons onseker.

Oor die politieke toekoms van ons land, werksgeleenthede, wat van my kinders gaan word, wat môre en oormôre gaan oplewer, wat met my gesondheid gaan gebeur, noem dit maar op.

Maar of ons aan God behoort, hoef jy nie oor te twyfel nie. Vers 12 sê: Want wie die Seun het, het die lewe, en wie glo, sal lewe.

Lewe, kindskap, die ewige lewe, is aan my gegee.

Ek het dit, hier en nou. En daarom sal ek nooit sterf nie.

  • Müller is leraar aan die NG Moedergemeente Kroonstad.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.