Kroonstadters kan deesdae pinkie in die lug ’n heerlike “high tea” by die Jordaniapark-aftreeoord geniet. Die oord het die koffiewinkel Die Teepot vir die publiek oopgestel.
Die geur van vars koffie en eksotiese teekombinasies hang in die lug en op die spyskaart is soet- en soutgeregte wat in elkeen se smaak sal val. Dit is veral die Liz Mouton (LMC) luukse rooibosteeversameling wat elke teeliefhebber se smaakkliere prikkel. Tradisionele koninklike en gewone tee word ook bedien.
“Ons wou graag die ‘high tea’-gevoel skep, met ’n boere-‘twist’ by. Besoekers is gaande oor ‘die dorp se drie terte’ – dit behels in ’n porsie melk-, jogurt- en cremora-tert wat saam bedien word, ” sê Tiaan Els, eienaar van Jordaniapark.
Tee word in elegante teestelle bedien, wat ’n adellike gevoel skep, en die kos en vars fyngebak word prentjiemooi voorgesit. Vir enigeen wat van die normale wil ontsnap, of selfs ’n ooievaar- of kombuisteeparty wil hou, is Die Teepot dié plek.
Besoek die koffiewinkel Maandae tot Vrydae van 10:00 tot 15:00 en Saterdae van 09:30 tot 11:30, by Proteastraat 9, Jordania, Kroonstad. Dit is Sondae en op vakansiedae gesluit.
Vir meer inligting of om besprekings te doen skakel 064-803-1607.