Die Reitz-landbou-akademie is ’n nie-winsgewende maatskappy geleë in die Oos-Vrystaatse dorp Reitz, waar studente deur die Hoërskool Reitz gehuisves word. Die akademie beskou groei as uiters belangrik en het daarom ’n omvattende siening oor die ontwikkeling van die jeug.
Die toekoms van landbou lê in die jeug
Die akademie se doel is om ’n wêreldgehalte- en unieke landbou-opleidinginstelling te wees.
Die benadering is beroepsgerig, met die doelwit om studente met kennis en vaardighede toe te rus om hul plek volwaardig in die landbousektor van die land se ekonomie in te neem.
Die kurrikulum word in twee hoofvakgebiede verdeel: bewaringslandbou en presisielandbou.
In die eersgenoemde vakgebied is die klem op volhoubaarheid. Beste landboupraktyke word oorweeg, asook ekonomiese faktore wat in ag geneem moet word.
Met presisielandbou is die klem op data-insameling en -verwerking.
Die slagspreuk “Om te meet is om te weet,” dui daarop hoe belangrik dit is dat studente ook met die nuutste tegnologie vertroud raak.
Die kurrikulum is gerig op twee hoof-opsies: vir Gr. 10 tot Gr. 12, asook die Agrifokus-jaar.
Die leerplan is baie prakties van aard sodat die student ook praktiese ervaring by boerdery kan opdoen. Studente deurloop praktiese opleiding saam met industrie-spesialiste.
Hulle word eweneens aan praktyke van vee- en gewasboerdery blootgestel.
Die ontwikkeling van vaardigheid met implemente en toerusting word ook ten doel gestel.
Projekte soos die bonsmara-stoetery-ontwikkeling, konynboerdery, kleinveeboerdery, skaapboerdery en die varkboerdery speel ’n groot rol in die praktiese aard van die opleiding.
Baie aandag word ook geskenk aan die invloed van landbou op die omgewing. Voorbeelde van bewaringslandbou-stelsels wat oor die wêreld heen toegepas word, word opgevolg deur ’n hele module wat handel oor grond en verskeie grondtoetse wat gedoen kan word.
Akademiese, kulturele, teoretiese, asook geestelike ontwikkeling word by die akademie bevorder sodat ’n gebalanseerde student gelewer kan word.
Die akademie se slagspreuk “Want die toekoms van landbou lê in die jeug,” geniet voorkeur.
Agrifokus-jaar bied unieke oorbruggingstyd
Skoolverlaters kry ’n geleentheid om in Reitz intensief aan landboupraktyke blootgestel te word.
Dié kursusse in landbou is ’n konsep van die akademie.
Die voorlopige program behels:
- gewasproduksie – praktiese ervaring van plant, ’n spuitprogram, die gebruik van ’n hommeltuig, stroop, en so meer; en
- diereproduksie – praktiese ervaring van bees-, skaap- en vark-prosessering, produksie, doseer- en inentingsprogramme, en so meer, asook besoeke aan verskeie verwerkingsaanlegte.
Opleiding wat betref lewens- en besigheidsvaardighede, veiligheid, noodhulp en baie meer word ook gebied aan dié wat daarin belangstel.
Om by die akademie betrokke te raak of om hulle vir die akademie of die Agri-fokusjaar se programme in te skryf, kan voornemende studente Christo Rothmann by 064-487-0883 kontak, of Jors Kriek by 082-946-9263 of jorsk@reitzlandbouakademie.co.za.
Vir meer inligting besoek die Facebook-blad Reitz Landbou Akademie.
Belangstellendes kan op verskeie maniere betrokke raak, hetsy finansieel, deur skenkings te doen of selfs deur hul tyd op een van verskeie maniere toe te wy.