Ons loop almal deur verskeie seisoene in die lewe, en soms kruis ons pad weer so op ’n onverwagte manier met dié van mense uit die verlede.
Dan besef jy die nostalgie van diep en hegte bande wat gevorm is, veral met mense uit jou kinderdae, en hoe ons dit onwetend koester.
Julle gesels land en sand en tel die drade op daar waar dié jare terug laat val is. Lekker gemaklik, so asof julle gister nog gesels het. Dit roer die hartsnare om te weet dat daar altyd ’n stukkie van ons menswees by ander agtergelaat word.
Onlangs het ek die voorreg gehad om met ’n ou skoolvriend, ’n baie begaafde musikant, ’n onderhoud te voer oor ’n konsert waarvoor hy die musiek skryf.
Aanvanklik is ek skrikkerig en intimideer die taak my – tot ná die eerste hallo. Daarna vloei die gesprek gemaklik en ons gesels oor soveel meer as die musiek. Ongelooflik hoe ons die bande net weer kon optel.
Ons weet nie altyd hoekom ons paaie weer met ander s’n kruis nie, maar ek besef in my geval dat dit beslis ten goede gebeur.
Ek is ook baie dankbaar om te weet dit is nie net ek wat met uitdagings van die lewe worstel nie. Ons het almal ons eie en baie unieke uitdagings wat ons in die oë moet kyk. Dan is dié juis die onverwagte gesprekke wat ons weer bemoedig.
’n Rukkie terug het ek dieselfde ervaar toe ek die voorreg gehad het om saam met drie skoolvriendinne te kuier. My siel het oorgeloop van vreugde en ek het elke minuut daarvan gekoester.
Dit is die mense wat weer jou liggie net so ’n bietjie helderder laat skyn en wat weet hoe om die glimlag terug te sit. Lekker lag is immers my “saving grace,” soos die Engelsman sal sê.
Mag liggies uit jou verlede jou ook kom verras soos hulle my verras het. Dit voed die siel en vul jou met wonderlike herinneringe – en maak vir seker die lewe meer kleurryk.