Die herderspaar van die Bethlehem AGS-gemeente groet die gemeenskap ná bykans drie en ’n half jaar se bediening in Bethlehem.
Past. Herman Grundlingh en sy vrou, Charmaine, wat lewensveranderende werk in die Bethlehem-gemeenskap gedoen het, sal van 1 Julie af by die AGS Deo Church in Newcastle hul goeie werk voortsit.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir die geseënde tyd wat ons in Bethlehem beleef het. Dit is ’n wonderlike gemeenskap wat ons hartlik ontvang het en waarmee ons lekker saamgewerk het. Ons sal die kerk en die gemeenskap verseker mis,” sê Grundlingh.
Charmaine, wat voltyds saam met past. Grundlingh, in die bediening is, het die bekende Chosen Women-geleenthede aangebied.
Chosen Women wat haar breinkind is, se doel was om vroue te bemagtig en te inspireer en vele suksesvolle geleenthede is al oor die land heen aangebied.
In 2021 het die Grundlingh-egpaar wat steeds nou bande met hul vorige gemeente by die AGS kerk Amanzimtoti het, tydens die oproerings en geweld in KwaZulu-Natal insamelings gedoen om mense in nood te help.
Die egpaar is reeds 16 jaar getroud en het twee kinders, Zac (10) en Amelia (8).
Die nuwe herderspaar vir die Bethlehem AGS-gemeente sal binnekort aangekondig word.