’n Jong hengelaar van Bethlehem was algeheel derde in die nasionale kampioen-van-kampioene-hengeltoernooi van die Suid-Afrikaanse Varswater-oewerhengelfederasie (SAVOF).
Hengelaars van oor die land heen het op 3 September hiervoor in Bloemhof byeengekom.
Janes Pieterse (15) het teen agt ander deelnemers meegeding.
Dié gr. 9-leerling aan die Hoërskool Witteberg is verlede jaar vir die Vrystaatspan gekies wat die algehele wenner van die nasionale hengelkompetisie was. Op dié geleentheid het Janus ’n goue en bronsmedaljes, asook ’n trofee, verower. Op die nasionale kampioenskapsbyeenkoms is Janus ook gekies om aan die SAVOF-proewe deel te neem.
Die beoefening van dié sportsoort was aanvanklik net ’n stokperdjie vir die jong man, wat nou al drie jaar lank aan kompetisies deelneem.
As lid van die Maluti Oos-hengeklub in Bethlehem oefen hy twee keer per week om meer akkuraat lyn te gooi, en op Saterdae neem klublede gewoonlik aan kompetisies deel.
Hulle hengel ook graag sosiaal by die Vaaldam of by plaasdamme in die Reitz-distrik.