Heilbron vat hande om waterbesoedeling te beveg

Die AfriForum-tak in Heilbron in samewerking met die departement van water en sanitasie (DWS) en ’n afvaardiging van boere wat langs die besoedelde Elandspruit buite Heilbron boer, het die oorsprong van die besoedeling in die spruit ondersoek.


Die AfriForum-tak in Heilbron in samewerking met die departement van water en sanitasie (DWS) en ’n afvaardiging van boere wat langs die besoedelde Elandspruit buite Heilbron boer, het die oorsprong van die besoedeling in die spruit ondersoek.

Op Woensdag 22 Maart het die bogenoemde partye ondersoek by die spruit gaan instel rakende die besoedeling. Dit volg nadat ’n dringende brief verlede jaar November aan die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit, DWS, landbouorganisasies, die departement van omgewingsake en die Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit gerig is oor die gesondheidsrisiko wat Elandspruit se water inhou weens die besoedeling.

AfriForum sê die riool- en vullisstorting by die spruit is so erg dat diere nie die water kan drink nie, en ook weens die water vrek. Diere wat noodgedwonge deur die spruit moes loop se pote het gevrot en geen visse of ander lewe is in die spruit gevind nie.

Die AfriForum-tak in Heilbron en afgevaardigdes het die Elandspruit buite Heilbron besoek op Woensdag 22 Maart om vas te stel wat die besoedeling in die spruit veroorsaak. Foto: Verskaf

Die onwettige stortingsterrein langs die spruit, asook rioolwerke in die omgewing wat nie in ’n behoorlike werkende toestand is nie, is as die oorsaak van die voortslepende besoedeling geidentifiseer. Die ondersoekspan vermoed dat die pompstasie wat die riool na die rioolwerke moet pomp, nie werk nie of nog nie voltooi is nie. Die pompstasie is geplunder en die terrein is oorgroei met lang gras. Een van die twee pompe by die rioolwerke is weg en kabels is gesteel.

Die DWS het met foto’s en aantekeninge onderneem om ’n verslag saam te stel en in samesprekings met die Ngwathe-munisipaliteit te tree oor die situasie by die spruit. Die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit het steeds nie op verlede jaar se brief reageer nie.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is hierdie situasie ontoelaatbaar.

“Nie net verloor die boere van hul vee nie, maar die waarde van hul grond sal verlaag weens die besoedelde water, wat eens ’n groot bate was. Dit is ’n skreiende skande dat die munisipaliteit die situasie so laat hand uitruk het. Bevoegde persone sal aangestel moet word om die situasie waar mense- en dierelewens op die spel is, te beredder,” sê Pretorius.

You need to be Logged In to leave a comment.