Soos in soveel ander Vrystaatse dorpe het AfriForum, in samewerking met gemeenskapslede, leerlinge van ’n plaaslike skool en die departement van korrektiewe dienste, ’n opruim- en skoonmaakprojek in Heilbron begin.
Op 4 April, in gure reënweer, het die groep in Langmarkstraat bymekaar gekom om gras in die omgewing se te sny en die vullis op te tel.
Tuingereedskap hiervoor is deur die gemeenskap geskenk of geborg.
“Ons as gemeenskap moet iets aan die dorp se agteruitgang doen,” meen Gerrie Muller, voorsitter van die Heilbron-tak.
“Geen ouer kan toesien dat ons kinders só grootword en die gehawende omstandighede van die dorp as normaal beskou nie.”
Muller het almal wat bereid was om betrokke te raak en die projek te borg hartlik bedank vir hulle bydraes.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, sê dit was heerlik om te sien hoe die gemeenskap hande vat om hul geliefde dorp weer na iets te laat lyk – en nie eens die reën kon hulle stuit nie.
Die projek is nog nie voltooi nie en sal deel van ’n deurlopende proses wees.