’n Gholfdag ten bate van die Bethlehemse DBV is deur Railway Liquorland Bethlehem op die Clarens-gholfbaan aangebied.
Dié geleentheid op Vrouedag, 9 Augustus, het ’n groot opbrengs vir die DBV opgelewer.
“Vanjaar het 114 gholfspelers, hoofsaaklik van Bethlehem en Clarens, maar ook van Bloemfontein, Johannesbrug en Kaapstad, deelgeneem. Die dag is goed ondersteun,” sê Martin Dreyer, organiseerder, asook mede-eienaar van Railway Liquorland.
Die gholfdag het met lekker, warm weer gepaardgegaan. Groot pryse was op die spel, wat tot ’n suksesvolle dag bygedra het.
“Ons kan net dankie sê vir almal wat die gholfdag moontlik gemaak het en wat dit ondersteun het.
“Die geld is broodnodig om al ons oorhoofse koste te dek, soos vir dierekos, veeartsrekeninge, salarisse en ons dag-tot-dag uitgawes,” sê Corlene van der Merwe, voorsitter van die Bethlehemse DBV.
Marius Dreyer, ondervoorsitter van dié plaaslike DBV-tak, sê dit is ’n riem onder die hart dat daar soveel mense is wat die viervoetiges se belange op die hart dra.
Die Bethlehemse DBV benodig dringend ’n bykomende voertuig om te verseker dat noodsaaklike dienste in Bethlehem en die omliggende omgewing gelewer kan word.
Enigiemand wat kan help of ’n bydrae wil lewer, kan die DBV by 058-303-3998 of Van der Merwe by 082-458-5036 kontak.