Maricha Heyns (34) van Senekal is met die dekaansmedalje vereer nadat sy haar honneursgraad in onderwys met lof geslaag het. Tydens die gradeplegtigheid, wat op Dinsdag 19 April by die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein plaasgevind het, het Kingsley Mogorosi, een van haar oudleerlinge, ook sy onderwysgraad ontvang.Foto: Verskaf


’n Onderwyser aan die Hoërskool Paul Erasmus in Senekal is met die gesogte dekaansmedalje vereer toe sy haar honneursgraad in onderwys met lof slaag.

Maricha Heyns (34), ’n boorling van Senekal, was oorstelp van vreugde toe sy op Dinsdag 19 April van dié spesiale eerbewys in kennis gestel is.

Sy het in 2020 aansoek gedoen om haar BEd-honneursgraad in 2021 te doen, en weens die Covid-19-pandemie het sy aanlyn klas begin loop.

Sy het die graad heeltyds aangepak en dit binne een jaar voltooi. As finalejaarstudent het sy die beste gevaar, en sy is met die dekaansmedalje vereer.

Maricha het die eerbewys en medalje in ontvangs geneem tydens haar gradeplegtigheid aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein.

“Ek is so dankbaar vir my man, familie en almal wat my ondersteun en in my geglo het,” sê sy.

“Sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie.”

Dit het ure se harde werk geverg, maar sy is dankbaar om nou die vrugte te pluk.

Maricha het haar skoolloop­baan in Senekal begin en aan die Hoërskool Paul Erasmus matrikuleer, waarna sy ’n BA-graad in drama en teaterkuns behaal het. Boonop het sy ’n nagraadse onderwyssertifikaat (NGOS) vir die senior fase voltooi, waarna sy haar as onderwyser by haar alma mater aangesluit het.

As kind was haar skoolloopbaan vol uitdagings omdat sy aandagafleibaar is.

“Ek was ’n gemiddelde presteerder en my pa het my in matriek aangemoedig om vir onderskeidings te werk deur ’n motor as beloning aan te bied. Dit is toe dat ek skouer aan die wiel begin sit het en uiteindelik matriek met vier onderskeidings geslaag het. Die motor het wel eers later gekom,” sê sy.

“Toe het ek besef dat ek eintlik tot enigiets in staat is, mits ek my daarop toespits.”

Dié boodskap dra sy ook oor aan haar leerlinge en moedig hulle aan om hard te werk en alles met deursettingsvermoë aan te pak.

Maricha en haar man, Malan, het drie jong kinders.

Op die vraag of sy haar meestersgraad gaan voltooi, antwoord sy dadelik dat sy vir nou op haar man en kinders wil fokus – tog kan dit dalk in die toekoms ’n moontlikheid wees.

You need to be Logged In to leave a comment.