Behoeftige inwoners van Kroonstad het ’n voedsame ete as deel van ’n uitreikprojek van die NG kerk Kroonstad-Noord ontvang.
Op Saterdag 2 Desember het 350 behoeftige mense wat deur verskeie kerke in die dorp geïdentifiseer is, ’n bord kos ontvang.
Isabel Kruger, orrelis van die NG kerk Kroonstad-Noord en projekleier, sê die projek het ontstaan nadat sy en verskeie belanghebbendes gesels het oor hoe die Here hulle die afgelope jaar geseën het.
“Ons wou graag terug gee van dit wat ons so mildelik ontvang het.”
Die woorde van hul gesprek was skaars koud, toe die verskillende kerke en leraars betrokke raak. Ruim skenkings is ontvang, en talle mense het hulp aangebied, hetsy met die kook van die kos of die aflewering daarvan.
Die ete het uit mieliepap en maalvleis, saam met ’n heilsame groentegereg, bestaan. Altesaam 40 kg mieliemeel, 25 kg maalvleis, 40 kg groente en 8 kg uie is verwerk en gekook.
“Ons is regtig so dankbaar vir elke liewe persoon wat gehelp het of ’n skenking gedoen het om van die projek ’n sukses te maak,” sê Kruger.
“Die name is net te veel om te noem; weet net julle is almal kosbaar, en sonder jul hulp sou dit nie moontlik gewees het nie.”
Kruger sê danksy al die hulp het die projek seepglad verloop, en die boodskappe van dankbaarheid was oorweldigend.
’n Soortgelyke projek in samewerking met ander gemeentes in Kroonstad sal volgens beplanning weer volgende jaar bedryf word.