Groot werk lê nog voor

Dorpe in die Dihlabeng- plaaslike munisipaliteit se krane was sedert verlede week droog weens die aanbring van ’n nuwe suiweringswaterpomp by die Saulspoort-watersuiwerings­aanleg buite Bethlehem.


Dorpe in die Dihlabeng- plaaslike munisipaliteit se krane was sedert verlede week droog weens die aanbring van ’n nuwe suiweringswaterpomp by die Saulspoort-watersuiwerings­aanleg buite Bethlehem.

Die nuwe suiweringwaterpomp is glo eers teen Sondag 9 Junie aangebring weens verskeie uitdagings en tegniese foute wat die kontrakteurs wat vir die herstelwerk verantwoordelik was, moes hanteer.

Teen Maandag is die watertoevoer na die meeste woonbuurte herstel, en dit was slegs inwoners van hoogliggende gebiede wat waterloos was.

Reeds van Donderdag af het dorpe in die Dihlabeng-munisipaliteit, wat Bethlehem, Rosendal en Paul Roux insluit, met wateruitdagings gesit.

In ’n persverklaring wat Sondag deur die munisipaliteit uitgereik is, is gesê dat die nuwe pomp tydelik, maar suksesvol, aangebring is, en dat die watertoevoer na woonbuurte stelselmatig na normaal sou terugkeer.

VrystaatKroon het ’n navraag aan die Dihlabeng-munisipaliteit gestuur om te bevestig of die herstel en vervanging van die watersuiweringpomp wel 100% afgehandel is.

Teen druktyd is nog geen het VrystaatKroon nog terugvoering ontvang nie.

“Ons probeer om die feite rakende die herstelwerk aan die watersuiweringspomp vanaf die munisipaliteit te bekom, sodat ons die inwoners op die hoogte kan hou van die stand van sake,” sê Willie Theunissen, DA-raadslid van dié munisipaliteit.

“Die erge koue van die afgelope week veroorsaak gebarste waterpype in verskeie woonbuurte, wat natuurlik ook die watertoevoer verswak.

“Dit is net weer ’n bewys dat die instandhouding van die infrastruktuur agterweë gelaat is en dringend aandag verg,”

Lieb Liebenberg, VF Plus-raadslid, het Maandag by navraag gesê dat die watersuiweringspomp vervang is en dat alle inwoners teen Dinsdag water behoort te hê.

Theunissen sê inwoners is egter bekommerd oor die instandhouding van die wateraanlegte en infrastruktuur, veral met die beplande instandhoudingswerk aan die oordrag- en afleweringstonnels van die Lesotho-Hoogland-waterprojek wat ses maande lank, van 1 Oktober to 31 Maart volgende jaar, sal duur. Die instandhoudingswerk word vanaf 1 Oktober tot 31 Maart volgende jaar beplan.

Instandhouding ter wille van dié Lesotho-Hoogland-waterprojek moet elke vyf tot tien jaar plaasvind. In 2019 is tydens die mees onlangse inspeksie bevind dat die staalvoerings van die tonnels dringend instandhoudingswerk aan beide Suid Afrika- en Lesotho-kant benodig.

Die Dihlabeng-munisipaliteit gaan gereeld gebuk onder verskeie water- en kraguitdagings weens verouderde infrastruktuur en instandhouding wat agterweë gelaat is, en dit plaas baie druk op sakeondernemings en inwoners van die gebied.

Die munisipaliteit het in ’n persverklaring versoek dat inwoners water spaarsamig gebruik en alternatiewe voorsorgmaatreëls in plek moet stel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.