Groep laat kuberkennis uitkring

Die VKB-groep het in Oktober, wat Kuberbewustheidsmaand is, drie Cyber Day-inligtingsessies aangebied. Die doel van die sessies – in Reitz, Nylstroom en Douglas – was om lede van die publiek, en spesifiek landboukundiges, in te lig oor die vele kuber


Die VKB-groep het in Oktober, wat Kuberbewustheidsmaand is, drie Cyber Day-inligtingsessies aangebied. Die doel van die sessies – in Reitz, Nylstroom en Douglas – was om lede van die publiek, en spesifiek landboukundiges, in te lig oor die vele kuberuitdagings wat bestaan en om kennis te deel oor hoe om in die digitale wêreld veilig te bly.

“Die belangrikheid daarvan om jouself, jou gesin en onderneming teen kubermisdaad te beskerm, is net soos die belangrikheid daarvan om jou deure snags te sluit,” het Marius Dreyer, uitvoerende hoof van inligting en tegnologie by die VKB-groep, gesê.

Dreyer het klem gelê op die bedreiging wat kuberaanvalle en -misdaad inhou, asook hoe om dié kwessies die hoof te bied. Volgens hom is dit noodsaaklik om waaksaam en ingelig te bly, om moontlike probleme te voorkom vir eie gemoedsrus.

“Die doel van die Cyber Days is om individue en alle belanghebbendes by die VKB-groep te help en te leer hoe om hulself en hul inligting teen kuberbedreigings te beskerm,” sê Myrna Viviers van VKB se inligting en tegnologiespan.

Op die inligtingsessies is maklike maniere om persoonlike inligting te beskerm, bespreek en gedemonstreer. Die veilige gebruik van tegnologie, die invloed van kunsmatige intelligensie (KI) en die uitken van slenters is ook bespreek.

VKB bied gereeld soortgelyke opleiding aan personeel, maar volgens Viviers wil die maatskappy met die aanbied van die Cyber Day-inligtingsessies meer mense bereik. Eksterne vennote van VKB, soos Snode en SNG Grant Thornton, het aan die sessies deelgeneem.

“Om hierdie inligtingsessies vir die gemeenskap te hou gee individue kennis oor moontlike bedreigings en bemagtig hulle om risiko’s te identifiseer en om veiliger praktyke aanlyn toe te pas,” het Viviers gesê.

“Deur praktiese strategieë te deel help dit nie net om die individu te beskerm nie, maar ook hulle families – en dit verhoog die veiligheid van ons gemeenskappe.”

Dreyer meen die belangrikste advies oor kuberveiligheid is dat die gebruiker die sterkste of swakste skakel is.

Die mees algemene gevalle van kubermisdaad vind plaas weens swak wagwoorde en individue wat deur slenters gevang word.

Die gebruik van unieke en komplekse wagwoorde kan die risiko aansienlik verminder.

Die boodskap is egter baie duidelik dat mense uiters versigtig en waaksaam moet wees en die moontlikheid van kuberslenters oorweeg voordat hulle optree.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.