Groen was nog nooit só rooskleurig

Moeder Natuur het mos ’n manier om te pronk wanneer sy moet pronk.


Moeder Natuur het mos ’n manier om te pronk wanneer sy moet pronk.

Groot dele van die land het in die laaste maand van verlede jaar mildelike reën ontvang en só kon sy na haar grasgroen rok gryp om op haar beste te lyk – ’n gesig wat ons lanklaas gesien het.

Dit is absoluut ’n wonderlike en salige gevoel wanneer jy deur verskillende provinsies reis en die mooiste groen natuurtonele kan aanskou.

Selfs die gewoonlik droë Karoo spog met plate geel, wit en pers blommetjies, ál langs paaie waar dit jare lank dor en droog was.

Die aarde is gevoed en springlewendig.

Die omswaai in die natuur bring voorwaar ’n positiewe energie en gevoel so vroeg in die nuwe jaar. Dit is verfrissend om soveel nuwe lewe te ervaar, met skilderagtige prentjies wat geskep word.

Die afgelope paar jaar was nie net vir die mens ’n uitdaging, weens die pandemie nie; die natuur is ook swaar getref, met veldbrande en droogtes wat vernietiging in groot dele van die land gebring het.

Met twee uiters vreemde jare agter die rug voel dit of ons saam met Moeder Natuur se lowergroen ons skouers terug trek om die jaar 2022 regop en vol nuwe moed tegemoet te stap. Ons asem die nuwe lewe in.

Dit herinner ons dat, as ons goed na ons emosionele en fisieke welstand omsien, ons enige nuwe uitdaging pronkerig en vol hoop kan aanpak. Dit kweek ’n lus vir die lewe wat ons met die verwagting van ’n jaar vol nuwe ervarings en verrassings laat.

Mag ons almal die nuwe lewe indrink, sodat ons ons vere kan regskud en, met skouers terug, van die verlede sal vergeet en met grasie sal vorentoe beweeg, so asof ons nie eens bewus was van enige swaarkry nie.

Dit is my hoop vir 2022 dat elkeen se stoutste verwagtinge oortref sal word en seëninge soos mildelike reën oor ons sal uitsak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.