Engo-gesinsorg in Kroonstad se werksessie oor hoe om speelgoed uit herwinbare materiale te maak was ’n reuse-sukses, en vanweë die gemeenskap se oorweldigende reaksie sal die organisasie dié werksessie weer in Junie aanbied.
Op 25 April het 28 gemeenskapslede uit verskillende oorde die kursus genaamd Toys out of Trash by die Phephetso Secondary School in Maokeng, Kroonstad, bygewoon. Kursusgangers is geleer hoe om speelgoed uit ’n verskeidenheid herwinbare materiale te maak. Engo-gesinsorg, in samewerking met die departement van onderwys se distriks-ondersteuningsdienste – voorheen bekend as die kinderleidingkliniek – se doel met die werksessies is om inligting aangaande vroeë kinderontwikkeling, asook aktiwiteite om jong kinders se vaardighede te ontwikkel, aan belangstellendes te verskaf. Vanweë die vraag na nog ’n werksessie deur kleuterskole en die algemene publiek sal die volgende werksessie teen einde Junie aangebied word. Skakel 056-212-4762 vir meer inligting.
- Mense kan ook deelneem aan Engo se Projek van Hoop, waarin een wenner in Desember ’n Renault Kwid Life ryker sal wees.
Die projek word ’n 12de keer deur Engo Vrystaat aangebied om geld in te samel vir dié liefdadigheidsinstansie se afdelings wat die lewe van bykans 200 000 mense raak.
Om ’n kans te staan om die Renault te wen, doen ’n skenking van R30 by enige Engo-kantoor of op engo.co.za. Elke maand word ’n gelukstrekking gehou en dan staan een skenker die kans om R1 000 te wen.
Die projek duur tot 15 November en finaliste-trekking vind op 6 Desember plaas.
Hou VrystaatKroon dop vir meer inligting..