“Om te weet waar jy vandaan kom. Weet jy? Ken jy jou herkoms? Weet jy wie is jy?” – Aubrey Springveldt (stamboomnavorser).
Genetiese stambome en om persoonlike herkoms vas te stel kan betekenisvol wees.
Dit is ook uitlewing wat wêreldwyd gewild is.
In Bethlehem het Martiens Pieters deeglik navorsing gedoen oor waar die Pieters-familie oorspronklik vandaan kom.
Die hoogtepunt van hierdie navorsing was ’n onthullingseremonie wat op 7 Oktober op die plaas Pietersdal/Windhoek, in die Bethlehem-distrik plaasgevind het.
Die kollig het geval op Hermanus Bernardus Pieters, wat op 18 Oktober 1776 in Kaapstad gebore en op 4 Februarie 1851 oorlede is. Hy was met Susana Maria Groenewald getroud. Pieters is op die plaas Pietersdal/Windhoek begrawe.
Wyle Ben Pieters (gebore 1940), Martiens Pieters (gebore 1944), Annatjie Cilliè (gebore 1946) en Wimpie Pieters (gebore 1951) is die vierde geslag van Hermanus Bernardus Pieters.
Die stamvader was Barend Pieters, oftewel Pietersz van Wesel, Hertogdom Kleef wat van Duitsland afkomstig was. Hy is in 1687 gebore en tussen 1762 en 1763 oorlede en het in 1710 in die Kaap aangekom.
Sy vrou was Johanna Nel, wat ook van Europese herkoms was, met wie hy in Stellenbosch getroud is.
Martiens vertel voorvader Hermanus, wat op die plaas Klipfontein, onder Riviersonderent in die Swellendam-distrik gewoon het, het met sy agt seuns saam met die Piet Uys-trek van die Kaap gekom.
Dié trek was op pad na Natal en het op die plaas Windhoek in die Bethlehem-distrik uitgespan. Hermanus het gesê as hy nie in Natal regkom nie, trek hy terug na Windhoek. En só het dit gebeur. Hy was nie bereid om onder Engelse bewind te staan nie. So het hy in 1844 teruggegaan na Windhoek – ’n plaas van 4 129 morge.
Die plaas is in 1848 wettig op sy naam geregistreer. Dit was vir Martiens-hulle ’n voorreg om die grafsteen wat erg verweer was te restoureer en so by sy familie se geskiedenis betrokke te wees. Hy is net spyt sy broer, wyle Ben, kon dit nie ook beleef nie.
“Plekke soos argiewe, museums, boedelregisters, oorlogregisters en ander kan gebruik word om meer van jou voorsate te wete te kom. Mense moet gesprekke soos staaltjies of lewensgebeurtenisse van voorgeslagte neerskryf of opneem om so hulle geskiedenis en lewensverloop vir die nageslagte lewendig te hou,” sê Martiens.
Volgens hom kan Google ook ’n waardevolle bydrae maak. Op die soekblokkie kan byvoorbeeld ’n voorouer se volle name en geboorte- of sterfdatum ingetik word, of albei, plus die woord “geni” om inligting te bekom.
Martiens se navorsing het hom na die Kaapse argiewe, asook die NG-kerk se argiewe in Bloemfontein, geneem en ook die Pieters-geslagsregisterboeke.
Hy het met die hulp van Lani Human van VrystaatKroon ’n gedenkboek saamgestel. Die restourasie van die grafsteen is met passie deur Martiens, asook Franco, Jaco en Riaan Pieters, begin en voltooi. Freek van Eeden was ook teenwoordig.