Goud verower

Die 17-jarige Shannon Purchase van Bethlehem het goud verwerf op die Konfederasie van Afrika-atletiek (KAA) se kampioenskapsbyeenkoms verlede week in Ndola, Zambië.


Die 17-jarige Shannon Purchase van Bethlehem het goud verwerf op die Konfederasie van Afrika-atletiek (KAA) se kampioenskapsbyeenkoms verlede week in Ndola, Zambië.

Sy is as die kampioen gekroon, met ’n hoogte van 3,4 m in die o.20-vroue-paalspringnommer.

“Dit voel alles nog so onwerklik. So asof ek droom; en dit is moeilik om die prestasie in te drink. Ek moet nog daaraan gewoond raak,” sê dié gr. 12-leerling aan die Hoërskool Voortrekker.

Die jong atleet se persoonlike beste is 3,5 m.

Shannon sê haar grootste kompetisie was die atlete van Egipte, maar die Suid-Afrikaners het nie vir hulle teruggestaan nie.

Wanneer sy paalspring oefen, voel dit vir haar die wêreld gaan staan ’n rukkie stil, en sy geniet dit om dan net gefokus te bly en te doen waarvoor sy lief is. Sy vind dit baie bevredigend wanneer sy oor die dwarslat op die mat val en sien sy het haar doelwit bereik.

Die Afrika-kampioenskap was vir haar ’n nuwe avontuur, en sy het dit ten volle geniet; veral omdat sy nuwe vriende gemaak het wat haar passie en hart vir dié sportsoort deel. Sy is dankbaar dat sy die kultuur van Zambië kon beleef, asook natuurlik die hoogtepunt: om die goue medalje om haar nek te hang.

Shannon oefen elke week van Maandag tot Donderdag twee uur per dag en word deur Alwyn Dippenaar afgerig. Die atletiekseisoen is nou verby, maar sy sal binnekort met ’n program ter voorbereiding vir die volgende seisoen begin.

Benewens haar deelname aan atletiek, speel Shannon hokkie. Sy geniet ook die buitelewe en tydverdrywe soos om vis te vang of in die berge te gaan stap. Sy doen graag plakboekwerk.

Die Purchase-gesin het sterk atletiek-gene en Shannon se broer, Jonathan (15), het in o.16-paalspring op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se nasionale byeenkoms, asook die nasionale skolebyeenkoms, goud verwerf – dít terwyl sy suster ook met goue medaljes van hierdie byeenkomste weggestap het.

Die twee is die kinders van Andy en Marietjie Purchase, wat in die Bethlehem-distrik boer.

You need to be Logged In to leave a comment.