God se wil ver bo die menslike begrip

’n Vrou wil haar man verlaat omdat hy haar vir die hoeveelste keer geslaan het toe hy dronk was.


’n Vrou wil haar man verlaat omdat hy haar vir die hoeveelste keer geslaan het toe hy dronk was.

Toe sy met haar tas in die deur staan, soebat die man dat sy hom nog ’n kans moet gee.

Sy antwoord dat hy die hoeveelste ultimatum nie nagekom het nie en dat sy klaar is met die huwelik.

Hy antwoord toe: “As dit die Here se wil is dat ons moet skei, dan moet ons seker maar skei.”

’n Ouerpaar sit in rou nadat hulle die verskriklike nuus gehoor het dat hul enigste kind in ’n motorongeluk gesterf het.

’n Buurman kom die vertrek in, simpatiseer en sê vir hulle: “Dit was die wil van die Here, julle moet daarby berus.”

Ek sidder by die aanhoor van sulke verhale – dat God se wil so goedkoop en eenvoudig gemaak kan word.

God se wil is gewoon te kompleks, te soewerein, te heilig, te hemels dat ons dit hier op aarde kan verstaan. Of laat ek eerder sê, ten volle kan verstaan.

God het ’n verborge wil en ’n geopenbaarde wil.

God se verborge wil ken niemand nie. Dit sluit in ons lewensdae, die einde van die wêreld en hoekom een aan kanker sterf en ’n ander een word gesond. Daar is sekere goed wat in hierdie wêreld gebeur waarop ons geen antwoord het nie.

Aan die ander kant het God ook ’n geopenbaarde wil. Dit is wanneer ons uit sy Woord hoor wat Hy wil hê ons moet doen.

Ons lees in 1 Tessalonisense 4:3: Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. In 1 Petrus 2:15 staan: Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, ’n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.

Daar bestaan dus in hierdie en talle ander tekste geen onduidelik­heid oor wat God se wil is nie.

Wanneer ek bid, laat U wil geskied, dan hou ek rekening daarmee dat daar sekere goed is wat ek nie weet nie.

Daarom pleit ek dat ek binne sy weë en wil sal leef en beweeg – en weet ek daar is sekere goed wat God se wil presies uitspel, en daarom pleit ek dan om meer en meer daaraan gehoorsaam te wees.


  • Weideman is leraar aan die NG kerk Kroonheuwel-Noord.

You need to be Logged In to leave a comment.