Hello Darkness, my old friend.
Nee, ek praat nie van beurtkrag wat terug is en ons tot in ons siel moeg maak wanneer die ligte skielik afgesit word en ons ’n uur of wat in die donker moet sit nie.
Die woorde kon net sowel die woorde van Heman, die Esragiet, gewees het, wat na alle waarskynlikheid vir Psalm 88 verantwoordelik was.
In die Hebreeuse teks eindig die Psalm met die woord duisternis: . . . my vertroueling is die duisternis(2020-vertaling).
Die duisternis van die dood is my geselskap, sê die 1983-vertaling.
Heman is in ’n diep en donker worsteling met die onverklaarbaarhede van die lewe.
Hy het net mooi genoeg gehad van teenspoed; die swaarkry het vir hom te veel geword. Hy beskryf sy nood met beelde wat op roerende wyse uitdruk dat hy amper dood is: “Ek vat al aan die doderyk,” “Ek staan al met die een voet in die graf” (dit, natuurlik, het ’n idioom geword) en “Dit is asof ek al tussen die dooies is.”
Deur die loop van die Psalm worstel hy met sake soos onbeantwoorde gebed en ’n onbereikbare God, magteloosheid, verslaenheid en dat hy radeloos in doodsgevaar is.
Hy beleef ook die vernietigende ervaring van God wat soos water is wat op hom toesak en hom afsluit van alles en almal – dat hy vervreemding van geliefdes en vriende ervaar. Daarom eindig die worsteling in en met die duisternis: Net die duisternis is sy geselskap of vertroueling.
Dit is ervarings waarmee baie van ons op die een of ander tyd worstel, ’n seer werklikheid waarmee soveel mense in vandag se tyd kan identifiseer. Die lewe is nie ’n sprokie wat altyd eindig met “They lived happily ever after” nie.
Daar is soms net nie lig aan die einde van die tonnel nie, dit lyk nie asof daar uitkoms of oplossings is nie – dit bly donker.
Genadiglik het Psalm 88 nie die laaste sê oor die lewe of oor God nie. Daar is ook Psalm 89, waarin die lig deurbreek en die Psalms weer God se goedheid, liefde, redding en verlossing uit nood erken en besing.
Dit wat Heman in vers 2 bely het, eggo deur al die eeue heen tot vandag toe nog: Here my God wat my altyd help.
Selfs in die donkerste van ons nagte kan ons weet God is getrou. Hy sal ons tegemoetkom, ons nood verlig, trane afdroog, vir ons uitkoms gee. Wag op die Here, totdat jy dit self ervaar.
Weideman is leraar aan die NG kerk Kroonheuwel-Noord.

