Bobby de Kock (78) doen dit weer – as bekende meestersatleet van Kroonstad spog hy met sewe goue medaljes wat hy op die Vrystaat-meestersatletiekbyeenkoms gewen het.
Op 1 Oktober het De Kock in die ouderdomsgroep vir atlete 75 tot 79 jaar in die 100 m, 200 m, 400 m, 800 m, 1 500 m, 5 000 m en die 2 000 m-hindernisnommer deelgeneem.
Hy het goud in al die nommers verwerf.
De Kock, het vanjaar op verskeie atletiekbyeenkomste presteer en het onder andere op die Gauteng-Noord-meestersbyeenkoms en die Sentrale-Gauteng-meestersbyeenkoms goue medaljes gewen.
Op die nasionale meestersatletiekkampioenskap, wat in Mei in die Pilditch-stadion in Pretoria plaasgevind het, het hy homself boonop bewys deur op hierdie byeenkoms van die beste atlete in die land ook skoonskip te maak.