Gissings ondermyn geregtigheid

Die gemoedere het verlede week hoog geloop oor uitspraak in die hofsaak waarin André Pienaar, boukontrakteur van Senekal, aan openbare geweldpleging skuldig bevind is.


Die gemoedere het verlede week hoog geloop oor uitspraak in die hofsaak waarin André Pienaar, boukontrakteur van Senekal, aan openbare geweldpleging skuldig bevind is.

Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan hy effektief tien maande moet uitdien.

Die agtergrond vir dié saak is die opspraakwekende Brendin Horner-moordsaak, wat in Oktober 2020 nie net die land nie, maar ook die wêreld laat gons het.

Die sosiale media het gegons met opinies oor die Pienaar-uitspraak en die algemene gevoel is dat die regstelsel nie konsekwent bly nie en soortgelyke sake verskillend hanteer.

Of hang dit af van die deeglike werk van ondersoekspanne, regsverteenwoordiging en wie in die regsbank is? Is wit op swart om die grysareas uit te sakel nog belangrik, of word dit net toegepas wanneer dit nodig geag word?

Aanhitsing op die sosiale media deur elke Jan Rap en sy maat wat ’n eiertjie te lê het, en skielik ’n regskenner en verslaggewer van formaat is, gooi net petrol op die vuur.

Die media word as sensasiesoekers uitgekryt wanneer daar verslag gelewer word – en wanneer niks geskryf word nie, word die media buitendien gestenig.

Wil ons regtig reg en geregtigheid laat geskied, of wil ons net ons opinie laat geld?

Dus, voordat jy weer jou skerp tong op die sosiale media laat gly, vra jouself af of dit regtig nodig is en of jy met die korrekte feite ingelig is. Mag die regstelsel en die media reg en geregtigheid laat seëvier, sodat die publiek ingelig kan bly.

You need to be Logged In to leave a comment.