Gidse laat taaleksamens vlot

Om gr. 12-leerlinge vir hul matriek-taaleksamens te help voorberei, het Avbob gratis eksamenvoorbereidingsgidse bekend gestel.


Om gr. 12-leerlinge vir hul matriek-taaleksamens te help voorberei, het Avbob gratis eksamenvoorbereidingsgidse bekend gestel.

Dié onderwys-ondersteuningsprogram, Avbob Step 12, is ontwikkel om matrikulante te help uitblink in hul moedertaal en eerste addisionele taal, aangesien albei verpligte vakke behels wat met ’n minimum van 40% geslaag moet word.

Carl van der Riet, uitvoerende hoof van Avbob, sê die program sal in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale beskikbaar wees, met drie eksamenvoorbereidingsgidse per taalvak.

“Ons hoop dat die program as ’n bloudruk vir onderwyser- en leerling­ondersteuning sal dien, en dat ander segmente van die private sektor soortgelyke programme sal ontwikkel vir nog gr. 12-vakke, soos wiskunde, natuurwetenskap en sakestudie,” voeg Van der Riet by.

Die studiegidse vir taalvakke is saamgestel om leerlinge se prestasie in die drie vraestelle in elke taalvak te verbeter, naamlik: taal in konteks, literatuur en skeppende skryfwerk. Vakkundiges met omvattende ervaring in die opvoedkundige sektor tree as raadgewers op.

Die struktuur en inhoud van die gidse is gegrond op die kurrikulum-en-assesseringsbeleid­verklaring, soos deur die departement van basiese onderwys (DBO) voorgeskryf.

Die voordele van die gebruik van die gidse kan reeds aan gr. 11-leerlinge oorgedra word.

Die Avbob Step 12-gidse kan sedert 14 Junie gratis by avbobstep12.co.za afgelaai word.

Die Facebook-blad AVBOB STEP 12 dien as ’n bymekaarkomplek vir gr. 12-onderwysers.

You need to be Logged In to leave a comment.