Hoewel die moordsyfer met 6,6% gedaal het, het ander geweldsmisdade in die Vrystaat met 9% gestyg, vergeleke met dieselfde tydperk in 2022.
Die polisie het Vrydag (18/08) die nasionale misdaadstatistieke vir die kwartaal van 1 April tot 30 Junie vanjaar bekend gemaak.
Vier van die 14 plaasmoorde wat in die tydperk gepleeg is, was in die Vrystaat.
Daar was ook vier plaasmoorde in KwaZulu-Natal, twee in Limpopo, twee in die Wes-Kaap, een in Mpumalanga en een in die Oos-Kaap. Al die syfers vergelyk misdade met dié in dieselfde tydperk in 2022.
Seksuele misdrywe in die Vrystaat het met 9% gestyg, poging tot moord met 8%, ernstige aanranding met 13%, gewone aanranding met 6%, roof met 10% en roof met verswarende omstandighede met 13%.
Bykans al die afdelings vir seksuele misdade toon ’n styging. Verkragting het met 8% gestyg, seksuele aanranding met 11% en poging om ’n seksuele misdaad te pleeg het met 110% gestyg.
Veeboere sal beslis die daling in veediefstal bevraagteken. Dié misdaad daal volgens statistieke met 10% in die Vrystaat.
Ontvoering in die Vrystaat het effens gedaal, met 6%. Altesaam 118 ontvoerings is aangemeld, vergeleke met 126 in dieselfde tydperk verlede jaar.
In die Noord-Kaap het al die kontakmisdade met 13% gestyg.
Die moordsyfer het met 10% gestyg, van 81 tot 90 vir die kwartaal, en poging tot moord met 102%, van 210 tot 426.
Roof met verswarende omstandighede het met 17%, van 316 aanmeldings tot 370, gestyg. Verkragting het met 5% gedaal, maar pogingsom ’n seksuele misdaad te pleeg het skerp gestyg met 38%.
Een van die mees gevreesde misdade, huisroof, het met 87% in die Noord-Kaap gestyg.
Altesaam 45 gevalle, vergeleke met 24 in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, is aangemeld.
Die meeste eiendomsverwante misdade het gedaal, maar veediefstal in die Noord-Kaap het met 9%, van 218 tot 237 gevalle, gestyg. Ontvoering in die provinsie het met 105%, van 18 tot 37 gevalle, gestyg.
Die polisie se kwartaallikse misdaadstatistieke is ’n goeie barometer van die ANC se mislukking as ’n regering waar korrupsie gedy en die ekonomie só vernietig is dat dit ’n teelaarde vir misdaad skep, sê dr. Pieter Groenewald van die VF Plus in ’n mediaverklaring.
Hy sê van die syfers wat uitgereik is, wys dat geweld teen vroue en kinders oor ’n tydperk van drie jaar bykans verdubbel het. Groenewald het ook sy kommer uitgespreek oor die styging in plaasmoorde, wat nasionaal van tien tot 14 gestyg het.