‘n Plaasrooftog waarby sewe verdagtes betrokke was, het vanoggend op die plaas Modderfontein, op die N5 tussen Bethlehem en Kestell plaasgevind.
Suzaan Cordier (38), ‘n bekende prokureur van Bethlehem, en twee huiswerkers is net ná 09:00 in die plaashuis oorval.
Maryna Cordier (75), eienaar van die plaas, was ten tyde van die voorval in Bethlehem om haar kleinseun skool toe te neem en inkopies te doen. Sy het ‘n oproep van haar bure ontvang om haar oor die voorval op Modderfontein in te lig. Sy sê dat die gewapende rowers haar dogter en twee huiswerkers oorval, die huis geplunder en selfs die kluis oopgebreek het. Die een huiswerker is erg aangerand.
“Suzaan kon daarin slaag om hulp te ontbied en boere in die omgewing en die polisie was dadelik op die toneel. Ek is baie dankbaar niks erger het gebeur nie en dat my dogter en huiswerkers veilig is,” sê sy.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder vir die Thabo Mofutsanyana-streek, het die voorval bevestig en sê dat die rowers selfone, juwele, skootrekenaars, wapens en ander artikels gebuit het. Hulle het toe met ‘n wit Toyota Hilux enkelkajuit-bakkie wat aan die Cordiers behoort, probeer vlug, maar het die voertuig op die plaas agtergelaat nadat hulle ‘n ent ver gery het.
‘n Saak van diefstal word deur die polisie ondersoek en geen verdagtes is al in hegtenis geneem nie. Die polisie versoek enigeen met inligting oor die voorval om hul naaste polisiekantoor te kontak, of skakel 08600-10111 of 082-332-3418.