Die bekende kruiekenner van Kroonstad, Maryna Serfontein, neem lesers op ’n reis deur die wêreld van kruie. Vandeesweek bespreek sy die tien topkruie om mee te kook.
Om kruie in kos te gebruik gee geur, kleur en heerlike smake. Dit kan die vaalste gereg in iets spesiaals omtower.
Daar is ’n magdom kruie wat smaakgewende eienskappe het, en ek bespreek graag van die gewildste en dié wat die maklikste hier in die Vrystaat sal groei.
- Roosmaryn met sy sterk aroma en smaak word veral in vleisgeregte gebruik, maar is ook heerlik in brood en aartappelgeregte. Dit is ’n pragtige immergroen struik vir die blomtuin en is baie koue- en droogtebestand.
- Soet basiliekruid staan oor die wêreld heen as die koning van kruie bekend, met sy hemelse ruik en smaak waarsonder geen tamatie-, pasta-, groente- of vleisgereg kan klaarkom nie. Dit is uitstekend vir spysvertering en goed om vlieë en muskiete mee weg te hou.
- Pieterselie, die staatmaker wat jare lank net as garnering gebruik is, gee smaak aan eiers, pasta, sop en visgeregte. Gesondheidsvoordele is groot en dit bevat hoë hoeveelhede van verskeie vitamiene en minerale. Gebruik dit om asem te verfris.
- Kruisement gee heerlike smaak aan souse, jogurt, drankies en ook vleisgeregte. Dit is ’n wonderlike krui om swakker vleissnitte mee te marineer en dra by tot goeie spysvertering. Dit is ’n groot aanwins in ’n tuin en kan as grondbedekker tussen rose geplant word. ’n Magdom variëteite bestaan – as daar meer as een in ’n tuin is, plant dit liewer in houers sodat hulle nie kruisbestuif nie.
- Grasuie is baie maklik om te kweek en kan tussen struike aangeplant word. Gebruik dit saam met eier, souse, kaas, vis en in slaai. Dié plant is immergroen en groei baie goed in potte.
- Origanum, ’n immergroen kruipagtige kruieplant wat orals maklik sal groei, gee heerlike geur en smaak aan vleis, tamatie, rys, pasta en pizza’s. ’n Rissievariëteit is ook nou beskikbaar. Dié plante is baie droogtebestand.
- Tiemie, ons afskeepkrui, behoort meer aangeplant en gebruik te word. Dit bied verskeie smaakgewende eienskappe in vleis, hoender, pasta, vis en bredies en is ’n soutvervanger. Gebruik dit as ’n mondspoelmiddel met antibakteriese eienskappe, en gorrel die tee vir ’n skoon asem.
- Geen kerriegereg behoort sonder koljander voorgesit te word nie. Dit groei maklik van saad, en gee baie saad in die najaar. Gedroog is dit heerlik in boerewors en biltong.
- Salie is ’n staatmaker en is een van die gewildste kruie in die Italiaanse en Franse kookkuns. Dit is lekker saam met vark, vetterige vis en pasta.
- Gebruik vinkel saam met vis, rys en slaai. Die gedroogte saad onderdruk hongerpyne en die wortelgedeelte maak ’n heerlike groente of slaai met ’n effense soethout-smaak (“liquorice”). Plant vinkel by rose, want baie groentes en kruie hou nie daarvan om langs vinkel te groei nie.