Getrouheid gee lewe

Daar was ’n man wat ’n wingerd uitverhuur het, vertel Jesus in Lukas 20:9 en verder.


Daar was ’n man wat ’n wingerd uitverhuur het, vertel Jesus in Lukas 20:9 en verder.

Die boere wat die wingerd gehuur het, het nie die ooreengekome huurgeld betaal nie. Die eienaar stuur toe twee slawe na die huurders om die geld te vorder. Hulle word geslaan en met leë hande teruggestuur.

Uiteindelik dink die eienaar dat hulle sy seun darem sal betaal. Maar die mense vermoor die seun omdat hulle dink die plaas sal dan aan hulle gegee word.

Jesus vra of dit reg sal wees om die huurders ook dood te maak en die grond aan ander te gee? Nee, dit moenie gebeur nie, sê die aanhoorders in Lukas 20:16.

Vader is die eienaar, die slawe is sy Woord wat hulle herinner dat hulle Hom vir lewe moet eer en dit nie vir hulleself alleen mag gebruik nie. Die seun is Jesus wat kom sterf sodat ons die eienaar van lewe kan gehoorsaam.

Ons moet kies waar ons getrouheid lê. Die regte getrouheid bring lewe. Ontrouheid vernietig ons.

Wie die Vader en Jesus nie deur die Heilige Gees se stem met hul gehuurde lewe gehoorsaam nie, sal lewe verloor.

Is ons ook soos die aanhoorders wat meen dat die eienaar nie reg op ons lewe het nie? Slegs die huurders wat hul eienaar se reg op lewe erken, mag lewe ten volle benut.

Gebed

Here Jesus, ek dink nou aan Hebreërs 6:6: In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting.

Ek besef U het die reg om my lewe op baie plekke terug te neem. Laat ek U eer met my lewe sodat ek kan lewe. Amen.

  • Els is leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.